Voormalige Springbok-afrigter Nick Mallett glo Rassie Erasmus sal tevrede wees met die manier waarop die Springbokke die tuiswedstryde van die Nasieskampioenskap die afgelope maand hanteer het.
Hoewel daar teen Skotland ’n paar benoude oomblikke was, met die Springbok-verdediging wat soms onder aanhoudende druk verkeer het, meen Mallett Gregor Townsend se span is een van die beste ter wêreld.
Oorwinning oor Skotland met veranderde span groot pluspunt
Volgens Mallett was dit ’n groot prestasie om Skotland te klop, veral met ’n span waarin sowat tien veranderinge aangebring is ná die wedstryd teen Engeland en waarin baie onervare spelers ingesluit was.
Hy het egter erken dat Suid-Afrika se verdediging soms deur die Skotte oopgeskeur is.
“Die Bokke het alles gekry wat hulle uit die tuiswedstryde teen Engeland, Skotland en Wallis wou hê,” het Mallett aan KickOff Rugby, ’n susterpublikasie van Die Papier, gesê.
“ ’n Sterk span het teen Engeland uitgedraf en uitstekend gevaar deur 40 punte aan te teken.
“Daarna is sowat tien veranderinge gemaak, en ’n jonger, minder ervare span het steeds daarin geslaag om Skotland te klop. Hulle is tans een van die vyf beste spanne ter wêreld en het al Frankryk, Engeland en Argentinië weg van die huis geklop.
“Dit was dus ’n baie goeie vertoning.
“Ons het wel vier drieë afgestaan en ons verdediging het soms maar wankelrig gelyk.
“Toe, in gladde toestande in Durban, het die manne goed gevaar om met 43-0 te wen.
“Wallis het nooit gelyk of hulle regtig in die wedstryd was nie.”
Vaste fasette bly groot sterkpunt
Mallett het gesê die Bokke se vaste fasette was deurgaans hul grootste sterkpunt.
“Oor die drie wedstryde was ons skrum- en lynstaanwerk uitstekend. Ons het ook die stryd van balle wat in die lug is goed beheer,” het hy gesê.
“Ek dink nie die eerste helfte teen Wallis was besonder goed nie, maar dit was hoofsaaklik weens ’n bietjie onervare span.”
“Ons fisieke spel is altyd daar. Enigiemand wat vir die Bokke speel, is eenvoudig meer fisiek, kom vinniger van die verdedigingslyn af en se duikslae is harder.
“Dit is die eienskappe wat jy van enige Springbokspan verwag.”
Suid-Afrika pak nou Argentinië op 8 Augustus in Buenos Aires in ’n eenmalige toetswedstryd as voorbereiding vir die Greatest Rivalry-reeks teen die All Blacks wat middel Augustus begin.
