Die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) het pas bevestig dat die “skietstaking” in Gasa, wat op 10 Oktober 2025 in werking getree het, nie die dood van kinders gestop het nie. Volgens die kinderfonds het gemiddeld een kind per dag sedert Oktober 2025 in Gasa gesterf. Dit is meer as 300 kinders. Daarbenewens is meer as 400 kinders sedert Oktober verlede jaar gewond.
Dokters beskryf die kinders se wonde as “ongewoon ernstig” en “uiters kompleks om te behandel” gegewe Gasa se verwoeste gesondheidstelsel. Baie kinders het ook nou lewenslange gestremdheid, chroniese pyn en afhanklikheid van ander vir basiese versorging.
Voortgesette en geverifieerde berigte dat Israelse soldate Palestynse kinders in Gasa doelbewus skiet, is van die ernstigste bewerings uit die Israelse oorlog teen Gasa wat na vore gekom het.

Hierdie is ook berigte wat met besondere omsigtigheid hanteer moet word: Daar is ’n belangrike verskil tussen bewyse dat individuele kinders doelbewus geteiken is, bewyse van ’n breër patroon en die bewyse dat sulke optrede as ’n algemene militêre beleid gebruik is. Die huidige storie is nie dat daar nuwe syfers is, wat bewys ’n spesifieke aantal kinders is geskiet nie.
Die storie is dat die omvangrykste internasionale ondersoek tot dusver reeds ’n gedokumenteerde patroon van doelbewuste skietvoorvalle gevind het, onder meer deur gewapende hommeltuie; ook dat kinders steeds deur Israeliese magte geskiet word maande nadat die tydperk, wat deur baie van die gedetailleerde gevallestudies gedek word, verstryk het.
In ’n verslag wat in Junie vanjaar deur die VN se Onafhanklike Internasionale Kommissie van Ondersoek oor die Besette Palestynse Gebied, insluitend Oos-Jerusalem en Israel, gepubliseer is, word tot die gevolgtrekking gekom dat Israelse magte Palestynse kinders direk met wapens geteiken het, insluitend skerpskutters en bewapende hommeltuie.
Die kommissie het gesê sy gevolgtrekking is gegrond op duisende bladsye materiaal uit openbare bronne, onderhoude met slagoffers en getuies, mediese getuienis en ander dokumentasie.
Israel het nie op die kommissie se versoeke om inligting gereageer nie. Die bevindings gaan dus aansienlik verder as die bewering dat kinders bloot tydens bombardemente toevallig gedood is.
- Van der Walt is ’n vryskutjoernalis wat hom op die Midde-Ooste toespits.
