Stellenbosse munisipaliteit aan ondersoek onderwerp oor beweerde wanbestuur van eiendom

Die Stellenbosch-stadsaal.
Die Stellenbosch-stadsaal. Foto: Facebook.

Onweerswolke het weer begin saampak rondom die beweerde wanbestuur van munisipale eiendom in Stellenbosch met ’n voorlopige ondersoek wat Dinsdag deur die Wes-Kaapse regering aangekondig is.

Intussen het die DA gedreig met regsoptrede teen bewerings van die aanlyn platform The Cape Independent oor allerlei wanpraktyke van DA-ampsdaers rondom hierdie en ander kwessies wat terugdateer tot met die bedanking van die omstrede Gesie van Deventer as burgemeester in 2024.

Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het in ’n verklaring aangekondig sy departement het ’n voorlopige ondersoek gedoen. Dit nadat klagtes ontvang is oor die nie nakoming van wetlike vereistes in die verhuring en verkoop van munisipale eiendom in Stellenbosch.

Hy het die kwessie nou na die provinsiale tesourie verwys om vas te stel wat die munisipaliteit se huidige beleid en prosedures oor die verhuring en verkoop van eiendom is. Die regsafdeling in die provinsiale premier se departement word ook gevra om vas te stel of daar enige regs- en geldelike gevolge vir huurders en die verhuurder was. Volgens Bredell sal daar ’n volledige ondersoek kom indien enige tekens van ernstige wanpraktyke of wanadminstrasie ontdek word.

Jan de Villiers, nasionale woordvoerder van die DA, het The Cape Independent, wat nie by die Persraad geregistreer is nie, beskuldig van fabrikasies, samesweringsteorieë, laster en ’n string feitefoute.

Volgens De Villiers gaan die DA met regsoptrede begin indien die platform, wat homself onder meer beskryf as “geskryf vir ’n meer konserwatiewe gehoor” nie die nodige regstellings plaas nie. Volgens De Villiers word die DA-bestuurde munisipaliteit jaar na jaar gelys as onder die bes bestuurde en het skoon oudits.

Luidens The Cape Independent se berig het die Eikestad se munisipaliteit se eie tesourie in 2025 ’n regsmening gekry dat daar wetlike oortredings is in die hantering van eiendom. Dit sluit in dat die burgemeesterskomitee voorgeskrewe prosedures omseil het vir die goedkeuring van eiendsomstransaksies. Gewone raadslede is toegang tot sleuteldokumente, ook oor omstrede aanstellings geweier, word beweer. Die gevolglike vrees is dat die munisipaliteit nou blootgestel is aan eise van miljoene rande.

Ingeligtes op die dorp het aan Die Papier gesê die ware storie agter die storie is watter sakebelange betrokke is. Volgens sommige is dit alles ineengestrengel met legio ontwikkelings wat tans in Stellenbosch en omgewing plaasvind.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie