Die Mpumalanga-polisie ondersoek ’n moordsaak ná die dood van twee tieners by ’n vakansieverblyf naby Sabie vroeër die week.
Die liggame van Cameron Waldeck-Cooks (17) en Ethan Coetzee (19), albei met bande met St Stithians College in Johannesburg, is Maandag by die verblyf aangetref.
Polisiewoordvoerder kol. Mavela Masondo het bevestig dat die saak, wat aanvanklik as ’n geregtelike doodsondersoek geregistreer is, na moord verander is nadat die nadoodse ondersoeke afgehandel is.
Volgens die nadoodse ondersoek dui die bevindings daarop dat Waldeck-Cooks, ’n graad 11-leerder aan St Stithians Girls’ College, moontlik verwurg is. Coetzee, wat in 2025 aan St Stithians Boys’ College gematrikuleer het, is vermoedelik deur selfdood oorlede.
Aanvanklike berigte het daarop gedui dat die polisie ’n moontlike toevallige dwelmoordosis ondersoek, maar die nadoodse bevindings het die ondersoek in ‘n ander rigting gestuur.
Cameron se ouers, Derrick Cooks en Claire Waldeck-Cooks, sê hul 17-jarige dogter was in Sabie om aan ’n staptoer deel te neem as deel van haar voorbereiding vir die Goudvlak van The President’s Award for Youth Empowerment, die Suid-Afrikaanse weergawe van The Duke of Edinburgh’s International Award.
In ’n verklaring sê die egpaar hulle het ’n onafhanklike forensiese patoloog aangestel, wie se voorlopige bevindings volgens hulle daarop dui dat Cameron se dood nie natuurlik of toevallig was nie. Hulle het ook die media en publiek versoek om hul familie se privaatheid te respekteer terwyl hulle rou.
St Stithians College het intussen hulde aan die twee jongmense gebring en hulle as geliefde lede van die skoolgemeenskap beskryf.
Volgens die skool het Cameron haar hele skoolloopbaan by St Stithians deurgebring nadat sy in 2015 in graad R begin het. Sy het uitgeblink in roei en netbal en is onthou as ‘n natuurlike leier wat jonger leerders met deernis en selfvertroue ondersteun het.
Coetzee het van graad R tot matriek aan St Stithians Boys’ College studeer en verlede jaar gematrikuleer. Hy het eerstespan-rugbykleure verwerf en was ook ‘n nasionale kampioen in byeenkomsry (eventing). Die skool het hom beskryf as ‘n jong man met nederigheid, toewyding en karakter.
Intussen het vriende, oudleerders en ander lede van die St Stithians-gemeenskap hul medelye op sosiale media gedeel en huldeblyke aan die twee jongmense gebring.
Die polisie ondersoek steeds die omstandighede wat tot die tragedie gelei het. Coetzee se dood word afsonderlik ondersoek, terwyl die ondersoek na Waldeck-Cooks se dood as ‘n moordsaak voortduur.


