Vroue-program die grootste nog
Moenie tydens Nampo by die rooi rose-tent verbyloop nie – gaan loer gerus in. Vanjaar se vroueprogram, aangebied deur Santam Landbou, bied ’n lekker mengsel leefstyl, kos, skoonheid, musiek en vermaak, wat gewis die moeite werd is.
Hoogtepunte uit die program
Die week begin op Dinsdag 12 Mei met ’n inspirerende reeks aanbiedings.
Susan Coetzer waarborg om jou te vermaak met ’n humoristiese aanbieding van haar gewilde agterblad-rubriek vir rooi rose, “Die soeke van Ouer Lisa de Waal na Mister Right”.
Sy deel ook haar insigte oor die verskille tussen “koekerige” en “terterige” vroue wat sy in haar jare as motiveringspreker teëgekom het. Die aanbieding beloof skaterlag-oomblikke, maar ook inspirasie, en haar boeke sal te koop wees.
Die opkomende ster Tamlyn Wessels bring vars energie na die verhoog met haar moderne Afrikaanse popklank. Ná haar debuut-treffer “Klein bietjie” in 2024, wat met ’n goue toekenning bekroon is, het sy haar sukses verder uitgebou met liedjies soos “Lui voete”, “Mooier as mens” en “Nommer hou”. Sy vestig haar met haar eerlike lirieke en vars styl as een van die belowendste jong stemme in Afrikaanse musiek.
Die geliefde Lizz Meiring bring haar kenmerkende humor en verhoogteenwoordigheid. Met jare se ervaring in teater, televisie en komedie weet sy hoe om gehore te boei en te laat lag, en haar optrede is altyd ’n hoogtepunt.
Een van die groot trekpleisters is sonder twyfel Hannon, oftewel Glam Guru. Hy wys met sy kenmerkende humor en praktiese raad hoe maklik dit is om elke dag op jou beste te lyk. Sy oormaak-demonstrasie op die Dinsdag beloof om ’n hoogtepunt te wees, waar hy spontaan iemand uit die gehoor kies en ’n vinnige, treffende transformasie doen. Woensdag deel hy stories uit sy loopbaan – van salon-fiasko’s tot televisie-oomblikke – en gee praktiese wenke oor hoe om elke dag met selfvertroue en styl aan te pak.
’n Besonderse hoogtepunt op die program is “Hartsbriewe” met Hannes van Wyk en Coenraad Rall. Hierdie intieme produksie neem gehore op ’n nostalgiese en emosionele reis deur die vele aspekte van liefde. Hulle laat briewe met ’n kombinasie van voorlesings, stories, klavierspel en sang lewe, wat soms snaaks, soms hartseer, maar altyd opreg is. Hannes se fyn, tong-in-die-kies- vertelkuns, saam met Coenraad se musikale begeleiding, skep ’n warm en betekenisvolle ervaring wat gehore lank sal bybly.
Kos met ’n kreatiewe kinkel
Kosliefhebbers kan uitsien na twee unieke demonstrasies deur Carmen Niehaus. In haar eerste sessie wys sy hoe rooibostee as ’n verrassende “speserykas in ’n teekoppie” gebruik kan word – van slaaie tot hoofgeregte en selfs nageregte. Haar tweede demonstrasie bring nostalgiese plaaskos na die tafel, maar met ‘n moderne, ligter aanslag.
Die Papier is ook vanjaar by Nampo. Kom loer gerus in by die rooi rose-tent, waar ons ’n gas is. Kom kry ook jou koerant saam met ’n koppie koffie by die Volvo-uitstalling.
Musiek, skoonheid en leefstyl
Die program sluit ook optredes in deur kunstenaars soos Amanda Strydom en die gewilde Willem Botha. Strydom is bekend om haar poëtiese lirieke en verfynde verhoogstyl en bring ’n meer intieme, storiegedrewe element na die program.
Amanda en Willem is veelsydige kunstenaars wat al diep spore in die plaaslike vermaaklikheidsbedryf getrap het.
Willem se oormaaksessies tydens die vroueprogram beloof om met sy energieke verhoogpersoonlikheid baie voete na die rooi rose-tent te lok.
Die program bied ook kreatiewe insette van die Namibiese kunstenaar John Rock Prophet.
Hy skep met sy eerlike lirieke en kenmerkende styl ’n klank wat tegelyk oud en nuut voel. Dit is ’n musikale ervaring wat gehore sal bybly.
Dan sal mode- en stylentoesiaste inspirasie vind by Reandi Grey se sessie oor hoe om klere te meng en pas.

Lag is gewaarborg
Vir dié wat lus is vir ligter vermaak, bring Groet die Grotman 2 die lagspiere behoorlik aan die werk. Vertolk deur Phillru van Achterbergh, ondersoek hierdie eenman-komedie, met teks en regie deur Frans Swart, die ewige verskille tussen mans en vroue op ’n skreeusnaakse en herkenbare manier. Dit bly met nuwe, moderne temas steeds getrou aan die oorspronklike skerp humor en insig.
’n Viering van vroue
Die Santam Landbou-vroueprogram in die rooi rose-tent is veel meer as net ’n reeks aanbiedings – dit is ’n viering van vroue, kreatiwiteit en geselligheid binne die landbou-omgewing.
Of jy nou kom vir inspirasie, praktiese wenke, musiek of bloot ’n lekker lag – hierdie program bied ’n waardevolle en genotvolle onderbreking tydens ’n besige Nampo-week.
Met ondersteuning van vennote soos Defender, Swartland Wynkelder, rooi rose, Carmién Tea, Die Papier, Leandie Grey, GL Events, Sasol en Nampo, beloof die program om iets vir elke smaak te bied.
