Nampo Kaap vat landbou die lug in

Pieter Neethling en Dean Bester se uitving by Kaap Nampo 2025.
Pieter Neethling en Dean Bester se uitving by Kaap Nampo 2025. Foto: GraanSA.

Van hommeltuie wat die eerste keer amptelik die lug sal invaar tot perde, werkhonde, jong uitvinders en ’n blomme­skou waar idiome lewe kry: Nampo Kaap 2026 beloof om veel meer as net ’n landbou-uitstalling te bied.

Die ekspo word van 9 tot 12 September by Bredasdorppark gehou en bring vanjaar tegnologie, landbou, vermaak, gesprekke en die groter landbougemeenskap op een terrein bymekaar.

Een van die grootste nuwig­hede is dat landbouhommel­tuie vanjaar prakties gedemonstreer mag word.

Volgens Bennie Zaayman, die uitvoerende hoof van Nampopark, is dit een van die opwindendste gebeure van die jaar. Die nabygeleë militêre basis het dit voorheen moei­liker gemaak om hommeltuie by Bredasdorp­park te laat vlieg, maar die nodige goedkeurings is nou verkry.

Dirk Strydom lei ’n gesprek by Nampo Kaap 2025.
Dirk Strydom lei ’n gesprek by Nampo Kaap 2025. Foto: GraanSA.

Hugo le Roux, wat ’n hommeltuigonderneming het, sê dit is ’n belangrike mylpaal omdat boere die tegnologie nou self in aksie kan sien.

“Die beste reaksie wat ons met die hommeltuie kry, is wanneer mense dit self sien. Om net statistieke te bespreek, is nie regtig genoeg nie,” sê hy.

Die tegnologie is egter maar net een deel van wat besoekers kan verwag.

In die Wes-Kaapse Smeermiddels-arena sal die Suid-­Afrikaanse Lipizzaners, Griffins Horse Archery en Mounted Games perdesport en aksie opdis.

Werkhonde sal ook hul vaardighede demonstreer, terwyl die Suid-Afrikaanse Lugmag se honde en ’n boerboel-rasvertoning verdere vermaak bied.

Hoewel vanjaar geen beeste, skape of bokke in die Landbank-veetent weens die bek-en-klouseerkrisis sal wees nie, bly die veesektor deel van die program. Telersvennoot­skappe sal beskikbaar wees om kennis te deel, terwyl die pluim­vee-uitstalling uitgebrei is.

AJ Muller se uitvinding vir die jonklomp-kompetisie by Nampo Kaap 2025.
AJ Muller se uitvinding vir die jonklomp-kompetisie by Nampo Kaap 2025. Foto: GraanSA.

Jonger besoekers kry ook ’n kans om die landbou van die toekoms te help vorm.

Die skole-afdeling van die Boereplanne-kompetisie gee leerders en studente ’n platform om praktiese oplos­sings vir alledaagse probleme te ontwikkel. Die kompetisie het verlede jaar 32 inskrywings ontvang.

Vir vroue bied die Santam Insurance-vrouetent ’n groter ruimte vir gesprekke, musiek en inspirasie, met onder meer Mel die Storieverteller, Brendan Peyper, Franna Benadé, Willem Botha, Lynette Beer en Benescke Janse van Rensburg.

Die Voermol-saal sal intussen blom met ’n spesiale fynbos­uitstalling onder leiding van die blomkunstenaar Marjolijn Malan.

Vanjaar se tema speel met bekende idiome, terwyl besoekers ook vir hul gunsteling-­rangskikking kan stem.

Die ekspo het self ’n lang pad gestap. Gesprekke oor die toekoms van landbou is ook ’n belang­rike deel van die program.

Verteenwoordigers van die Rooivleisprodusente-organi­sasie, die Melkprodusente-organi­sasie, Vinpro en Graan SA sal sektoruitdagings en moontlike oplossings bespreek.

Nation in Conversation en Food for Mzansi bied ook gesprekke met kundiges.

Water, klimaat, groenteproduksie en nuwe tegnologie sal onder meer bespreek word.

Wat in 1992 as ’n kleiner landboudag in die Overberg begin het, het in 2018 sy huidige vorm as Nampo Kaap by Bredasdorppark aangeneem.

Die eerste ekspo het sowat 350 uitstallers en 16 000 besoekers gelok. Teen 2024 het dit tot 542 uitstallers en 45 894 besoekers gegroei.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos