‘Niks anders as nepotisme’ mor opposisiepartye oor DA se burgemeesterskandidate in Wynlande

Koos en Antoinette Steyn is onderskeidelik die DA se burgemeesterskandidate vir die Breedevallei-munisipaliteit en Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit.
Koos en Antoinette Steyn is onderskeidelik die DA se burgemeesterskandidate vir die Breedevallei-munisipaliteit en Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit. Foto: Ronél lvan Jaarsveld

Nepotisme! waarsku ’n opposisieparty. “Hoeveel sleutels moet een familie nog kry?” vra ’n ander politikus in ’n onlangse Facebook-plasing.

Dié is gevoelige tone wat raakgetrap voel – juis as gevolg van die geskiedenis in Suid-Afrikaanse politiek.

Hul kommer volg nadat die burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), Antoinette Steyn, aangewys is as die DA se burgemeesters­kandidaat vir die Kaapse Wynland-­distriksmunisipaliteit. Haar man, Koos, is die party se burgemeesterskandidaat vir die BVM. Koos se seun, Craig Steyn, is ’n raadslid in die Langeberg-munisipaliteit en ’n lid van die burgemeesterskomitee.

Grant Pascoe, wat voorheen by die DA, die ANC sowel as die Good-party betrokke was, skryf op Facebook: “Niemand sê die Steyn-familie mag nie aan die politiek deelneem nie. Dit is nie die kwessie nie. Die kwessie is dat ­dieselfde ­familie oor en oor in invloedryke poste opduik. Koos Steyn dien reeds sy derde termyn as die DA se Wesstreek-voorsitter. Sy vrou, Antoinette Steyn, was burgemeester van die Breedevallei en is nou die DA se burgemeesterskandidaat vir die Kaapse Wynlande se distriksraad. Nog ’n Steyn dien in Langeberg se burgemeesterskomitee en verskeie belangrike komitees.

“Reg of verkeerd – dit skep ’n waarneming dat politieke invloed in die Boland al hoe meer om een familie saamtrek.

“Vir baie gewone lede is dit waar die ongemak begin. Hulle sien hoe dieselfde vanne oor en oor opduik wanneer belang­rike poste gevul word. Hulle sien hoe dieselfde mense aan die stuur bly terwyl ander vir jare wag vir ’n geleent­heid om hulself te bewys.

“Dit is veral ’n sensitiewe onderwerp in ’n streek waar die DA se steunbasis grootliks uit bruin kiesers en bruin lede bestaan. Dit is hierdie mense wat die veldtogte dryf, die stemme werf en die party op grondvlak aan die gang hou. Tog voel baie van hulle wanneer dit by die hoogste politieke poste kom, staan dieselfde mense altyd eerste in die ry,” het die plasing, wat wyd gedeel is, gelui.

Die Steyn-egpaar ontken egter enige sprake van nepotisme en sê die aanstellingsproses word juis gereguleer om te verhoed dat ’n kandidaat voorgetrek word.

Loopbane

Die Steyns se loopbane in die poli­tiek het 26 jaar gelede onafhanklik van mekaar begin, het die egpaar in ’n onderhoud aan Standard Breederivier Gazette gesê. “Ek het vir baie jare aan die administratiewe kant van die politiek gewerk en Antoinette was aan die politieke kant,” het Koos vertel. Hy was streekbestuurder vir die Weskus- en Wynlandstreke voordat hy hom in 2021 tot die politiek gewend het.

Hy het die afgelope vyf jaar as burgemeesterskomiteelid van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit in die portefeulje vir ekonomiese ontwikkeling gedien. Wat die Steyns grief oor die bewerings op sosiale media, is dat mense praat asof hulle onbehoorlike invloed in die aanstellings gehad het.

“Ons is nie aangestel in ons poste nie, maar tydens die DA se kongres op 30 Mei deur 400 lede van die Wesstreek, van wie 80% bruin is, verkies.

“Hierdie plasings en kommentare word gemaak deur mense wat in elk geval nie die party ondersteun nie en in elk geval nie vir ’n DA-kandidaat sou gestem het nie.”

Op die party se kongres is Koos Steyn as streekvoorsitter verkies, met Wendy Kaizer-Philander, Avron Appollis en Donovan Joubert as vise-streekvoorsitters. Antoinette Steyn is as streek­sekretaris verkies.

“In die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit is ’n proses gevolg om ’n aanstelling te doen. Altesaam 19 mense het aansoek gedoen. Ek het besluit om aansoek te doen omdat ek nie nog ’n termyn as burgemeester by BVM kan dien nie en ek nie op 51-jarige ouderdom by die huis wil gaan sit nie. Politiek was nog altyd my lewe,” het Antoinette gesê.

Sy het haar loopbaan in 2000 as sekretaresse vir die kiesafdeling in Breedevallei begin. In 2006 was sy ’n proporsionele raadslid, in 2011 is sy as Speaker aangewys en in 2013 het sy as uitvoerende burgemeester by die raadslid Basil Kivedo, wat vir die provinsiale raadgewer benoem is, oorgeneem. Sy is in 2016 tot uitvoerende burgemeester verkies.

Streng aanstellingsproses

“Streng aanstellingsprosesse word in die party gevolg deur ’n paneel afgevaardigdes van die streek, provinsie en nasionale leierskap, met ’n onafhanklike waarnemer om te verseker die proses is regverdig. ’n Kandidaat kan nie voorgetrek word nie – dit is waarvoor die ombudsman daar is. Die paneel plaas die kandidate in ’n rangorde, wat deur die nasionale leierskap goed- of afgekeur word,” het Antoinette gesê. “Nie ek of Koos kan op enige manier ’n invloed op die aanstelling van ons familie hê nie.”

Hulle sê die ontwikkeling van die jonger geslag politici is vir hulle belang­rik. “Ons staan in niemand se pad nie en probeer so veel as moontlik om jonges die kans te gee om hul vaardighede te ontwikkel.”

Die egpaar sê familielede mag ingevolge die DA se reëls nie in dieselfde koukusse dien nie. Daarom kon Koos nie aanbly by die distrik indien Antoinette as die Wynland-burgemeester verkies word nie.

Diegene wat om die pos as distriksburgemeester aansoek gedoen het, het vir onderhoude gegaan. “Jou werksprestasie die afgelope vyf jaar is in ag geneem,” het sy gesê.

  • Suid-Afrika se munisipale verkiesing sal op 4 November plaasvind.

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie