In die Vorstershoop-streek in die Noordwes is ’n boer met R250 000 beboet terwyl 23 ongedokumenteerde buitelandse burgers wat na bewering op sy plaas in diens was, in hegtenis geneem is.
Tydens die intelligensiegedrewe operasie het die polisie ’n wit Isuzu-vragmotor en ’n wit Toyota Land Cruiser-enkelkajuit op die R379-grondpad voorgekeer. Verskeie insittendes het na nabygeleë plase gevlug, terwyl die bestuurder en die boer wat die onderskeie voertuie bestuur het, deur die polisie voorgekeer is.
Die polisie het die boer versoek om die individue te kontak, waarna hulle vrywillig teruggekeer het sodat hul dokumentasie nagegaan kon word. Verdere ondersoeke, wat saam met die departement van binnelandse sake in Ganyesa gedoen is, het bevestig dat hul dokumente verval of ongeldig was.
Die verdagtes, tussen 21 en 49 jaar oud, sal na verwagting Maandag 29 Junie in die Ganyesa-landdroshof verskyn.
Die polisie het die lede wat by die intelligensiegedrewe operasie betrokke was, geloof. Die waarnemende provinsiale kommissaris, maj.genl. (dr.) Ryno Naidoo, het gesê die polisie bly daartoe verbind om saam met relevante rolspelers te werk om immigrasiewette af te dwing en nakoming van Suid-Afrikaanse wetgewing te verseker.
