Onkeerbare All Blacks oorrompel Bulle met vinnige spel

Die Bulle moes die knie buig teen die All Blacks.
Die Bulle moes die knie buig teen die All Blacks. Foto: X/BlueBulls

Die All Blacks het Saterdagmiddag hul derde agtereenvolgende oorwinning op hul Greatest Rivalry-toer deur Suid-Afrika behaal toe hulle die Bulle met 50-19 op Loftus Versfeld verslaan het.

Dit was ’n wedstryd waarin Nieu-Seeland gewys het dat hulle nie van hul vinnige, bal-in-die-hand-benadering gaan afwyk nie – en die hoogtefaktor het hulle allermins gepla.

Die Bulle was mededingend, maar is gereeld deur hanteringsfoute en swak besluitneming in die steek gelaat. Dit is egter te verstane aangesien die Pretoria-span nog aan die begin van hul seisoen is.

Die tuisspan het goed begin en die All Blacks in die openingsminute onder druk geplaas.

Nadat Nieu-Seeland die druk weerstaan en sy eerste aanval geloods het, was die Bulle se verdediging wel stewig. Hulle het ’n dryfmaal vyf meter van die doellyn gestuit en daarna ’n skrum gewen nadat die All Blacks die bal vorentoe laat val het.

Amper ’n drie

Die Bulle was in die 12de minuut naby daaraan om die eerste punte aan te teken toe Juann Else vanuit ’n aanvallende dryfmaal oor die doellyn probeer druk het, maar hy is net kort daarvan gestuit.

Nadat hulle ’n tydperk van Bulle-druk geabsorbeer het, het Nieu-Seeland met sy tweede aanval in die Bulle se gebied toegeslaan. Die All Blacks het die bal vinnig geskuif en met knap hantering het Josh Moorby in die linkerhoek oorgedruk om die besoekers met 5-0 voor te sit.

Die Bulle het ’n paar minute later gedink hulle het gedruk toe Hanro Liebenberg ’n los bal opgetel, vorentoe geskop en dit ná ’n fout deur Fabian Holland opgetel het voordat hy oor die doellyn geduik het. Die TV-skeidsregter het die spel egter teruggeroep nadat ’n vorentoe-aangee in die aanloop tot die drie beslis is.

Vroeë leiding deur die All Blacks

Die All Blacks het geen probleme gehad om hul kanse te benut nie. Moorby het sy tweede drie gedruk nadat nog ’n gladde agterlynbeweging die Bulle-verdediging op die verkeerde voet gevang het. Beauden Barrett het die doelskop oorgeskop om Nieu-Seeland in die 19de minuut met 12-0 voor te sit.

Hoewel die Bulle geleenthede gehad het, het swak besluitneming en uitvoering hulle dikwels gekeer.

Die All Blacks het nie dieselfde probleme ondervind nie en het voor rustyd nog twee drieë deur kaptein Codie Taylor gedruk.

Die eerste het gekom ná ’n vinnige strafskop vyf meter van die Bulle se doellyn af. Die tweede het ná die rustydfluitjie gevolg toe Nieu-Seeland oor die Bulle gedryf het om balbesit te verseker.

Nadat Taylor en die All Blacks die bal deur verskeie fases geneem het, was hy ’n paar meter van die doellyn af te sterk om te keer en het hy die besoekers met 24-0 voor laat loop met rustyd.

Tweede helfte

Die Bulle het die tweede helfte presies begin soos hulle moes. Ruan Vermaak het in die 42ste minuut ná ’n goed uitgewerkte beweging vanaf ’n aanvallende lynstaan van vyf meter oorgedruk. Curwin Bosch het die doelskop oorgeskop om die All Blacks se voorsprong tot 24-7 te verklein.

Hul vreugde was egter van korte duur. Die All Blacks het direk ná die afskop toegeslaan, met Leroy Carter wat goed in die regterhoek afgerond het om die telling na 29-7 te neem.

Dit het ’n paar minute later 36-7 geword toe die All Blacks nog ’n Bulle-fout uitgebuit het. Hulle het die bal weer vinnig wyd geskuif, waarna Carter Rieko Ioane binnetoe gevind het om te druk.

Jeandré Rudolph, wat ’n uitstekende wedstryd vir die tuisspan gespeel het, het die Bulle se tweede drie in die 53ste minuut help skep toe hy blindkant toe uit ’n skrum gebreek het.

Nadat Rudolph sowat 15 meter gevorder het, het hy Curwin Bosch gevind. Die losskakel het goed gevaar om Stravino Jacobs in die spasie te vind. Die vleuel het die res gedoen, langs die kantlyn afgehardloop voordat hy binnetoe gesny en Barrett omseil het om te druk. Die Bulle het die agterstand daarmee tot 36-12 laat krimp.

Nog ’n drie deur Carter in die 66ste minuut het die oorwinning vir Nieu-Seeland verseker, waarna Wallace Sititi ook ’n drie gedruk het.

Troosdrie deur kaptein

Die Bulle het darem ’n derde drie aangeteken deur kaptein Marcell Coetzee, wat ’n reusebydrae vir die tuisspan gelewer het.

KLIEK HIER vir die meestersklas in rugby wat die All Blacks Saterdag na die veld gebring het.

Puntemakers

Bulle

Drieë: Ruan Vermaak, Stravino Jacobs, Marcell Coetzee
Doelskoppe: Curwin Bosch (2)

All Blacks

Drieë: Josh Moorby (2), Codie Taylor (2), Leroy Carter (2), Rieko Ioane, Wallace Sititi
Doelskoppe: Beauden Barrett, Josh Jacomb (4)


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos