Ontmoet Belgiese eerste minister se kat: Van skuiling tot kollig

In die dikwels troebel en geheimsinnige politieke wêreld, word troeteldiere al lankal as betroubare bondgenote gebruik om politici se harde beeld by die kiesers te versag.

Dink maar aan Larry die kat by 10 Downingstraat of die voormalige Amerikaanse president Joe Biden se Duitse herdershond, Major. Dié laasgenoemde moes ongelukkig by familievriende gaan nesskop ná ’n paar bytinsidente.

Deesdae is dit die reddingskat Maximus, wat deur die Belgiese eerste minister Bart De Wever aangeneem is, wat harte vermurwe.

Maximus Textoris Pulcher, soos hy op Instagram (@maximustp16) heet, het al meer as 204 000 volgelinge en word as volwaardige smaakmaker geag.

Na bewering word die kat se sosialemediaprofiel deur Bart se persoonlike assistent bestuur en trek dit veral aandag weens “die kat” se mengsel van humoristiese inhoud en skerpsinnige politieke kommentaar.

Wat Maximus egter van ander politieke troeteldiere onderskei, is die manier waarop dié se sosialemediaplasings België se huidige politieke klimaat versinnebeeld.

Soos toe daar glo ’n komplot gesneuwel het om Bart (en ander politici) in ’n hommeltuig leed aan te doen. “Maximus, kan jy ’n hommeltuig vang?” sê-vra Bart. “Nee, maar ek vang drome soos niemand anders nie,” laat die kat dan op sosiale media hoor.

Almal wat Maximus se sosialemediaprofiel fyn dophou, is egter nie aanhangers nie. Dikwels gaan ’n mens kiesers warm onder die kraag hê as jy intense begrotingsonderhandelinge of stakings met ’n komiese kat “beantwoord”.

Tog moet Maximus se kardinale rol as strategiese spreekbuis nie onderskat word nie, meen die politieke ontlede Dave Sinardet.

Die kat versag Bart se beeld as konserwatiewe leier, bied ’n ligter perspektief op ernstige politieke sake en kan moontlik die aandag aflei van meer omstrede beleidsbesluite.

Die mate waartoe Maximus dus vir direkte politieke kommentaar gebruik word, onderskei hom van sy internasionale eweknieë soos Larry en Major.

Dié troeteldiere moet soms gereed staan vir ’n prettige fotosessie om gemoedere te lig, maar Maximus is deel van die politieke diskoers. “Hy” praat self!

Die publiek se reaksie op België se kat-kommentator is gemeng. Ondersteuners waardeer die humor en menslikheid, waarteenoor kritici die kat se rol bevraagteken om Bart se politieke mislukkings en struwelings te versag.

  • Artikel deur AFP


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie