Vir jare was die losskakel se werk op die veld eenvoudig. Dit is die speler wat die wedstrydplan en uitvoering daarvan beheer. Die bestuurder van die span op die veld as ’t ware.
Hy organiseer sy troepe, plaas druk op die teenstanders, verlig die druk op sy span, skop pale toe en slaan toe wanneer die geleentheid hom voordoen.
Dit alles is steeds van toepassing, maar die spel het verander sodat daardie geleentheid om foute uit te buit, drasties verklein het.
Die verdedigingspatrone van spanne het sodoende verander dat foute binne sekondes reggestel word. Teen die tyd dat ’n losskakel aangepas het, is die geleentheid wat geskep is om toe te slaan, verby.
Met vandag se speelpatrone moet jy dus onmiddellik toeslaan en jou aanvallende spelers nader aan die bal hê.
Die moderne losskakel in vandag se tye kan nie meer net staatmaak op die tradisionele sterkpunte wat die nommer 10-trui vervolmaak het nie. Daar moet ’n ekstra angel in sy arsenaal wees om onmiddellik munt te slaan uit spanne se foute.
Dis een rede hoekom die kombinasie van Handré Pollard en Willie le Roux so goed vir die Springbokke gewerk het. Pollard is daai klassieke losskakel wat die spel kan beheer, fisiek is, korrek pale toe skop en sy agterlyn beheer. Le Roux daarenteen was meer ’n aanvallende losskakel, wat homself in ’n situasie bevind het om die spel te ontwrig en geleenthede te skep teen die verloor van spel.
Sasha Feinberg-Mngomezulu is dalk ’n hedendaagse voorbeeld van albei. Hy is dalk ’n prototipe van waarheen ons op pad is. Gegewe dat hy homself nog in die 10-trui vind, maar hy het al gewys dat hy gevaarlik is naby die bal.
Dit bring ons by die jong 18-jarige heelagter van die Sharks, Zekhethelo Siyaya, wat die afgelope naweek op losskakel begin het. Deels noodgedwonge uit beserings wat die hoofafrigter, JP Petersen, genoop het om hom daar te begin, en deels met ’n oog op die toekoms in dié belangrike posisie.
Ek wou Mzekezeke se vertoning van nader bekyk om te sien wat hy in die rol teen Benetton gebring het. Die eerste noemenswaardige oomblik het vyf minute in die wedstryd plaasgevind tydens ’n ronde taktiese skopwerk. Siyaya, as losskakel, dek die agterveld wanneer hy ’n terugsskop van Benetton se Louis Lynagh opvang.
Maar in plaas daarvan om terug te skop, merk Siyaya ’n gaping in Benetton se verdediging op en pyl daaop af. Met uitstekende voetwerk, versnelling en krag kom hy verby drie verdedigers en wen byna 40 meter se veld. ’n Klein fout, onmiddellike voordeel.

Dit is een ding om dit vanuit los spel te doen, maar iets heel anders om dit vanuit ’n vaste fase te doen. Hieronder speel die Sharks vanuit ’n skrum, met Esterhuizen en Julius wat ’n patroon op Siyaya se skouer hardloop. Maar Zekhs sien Benetton se skrumskakel was net effens stadig om toe te maak . . . daarom laat vaar hy die beweging en versnel deur die opening net voordat dit sluit.
Hy is 18 jaar oud, het ’n oombliklike ontkoppeling raakgesien en ’n voorafbepaalde spel geïgnoreer om Benetton se fout te straf.

Maar hy moet steeds ’n losskakel wees, en ’n losskakel moet kan skop. Siyaya lyk of hy oor ’n kragtige en goed afgerigte skopskoen beskik, en dit was bemoedigend om te sien hoe hy ’n stewige 50 meter lynskop gee om ’n Sharks-aanvalslynstaan naby die doellyn te bewerkstellig. Dit lyk of hy goeie afstand kry en baie beheer het, wat hom goed sal dien of hy nou op 15 of 10 speel.
Aan die ander kant was sy skopwerk pale toe in dié wedstryd nie goed nie, en dit is iets waaraan hy sal moet werk as hy as ’n bestendige nr. 10 beskou wil word.

Maar wat werklik interessant is van die skop hierbo, is dat Siyaya die een was wat die strafskop in die eerste plek afgedwing het. Haker Eduan Swart het ’n dominante hou op ’n Benetton-baldraer gemaak, en die jong losskakel het op stadige skoonmaakwerk toegeslaan om sy hande op die bal te kry.
Dit wys uitstekende spelbewustheid en durf van ’n 18-jarige op die groot verhoog.

Verspreiding. Ek het kennis geneem van sy vermoë om skerp, lang verspreiding in volle vaart. Hieronder is een voorbeeld: ’n lang, skerp aangee na Makazole Mapimpi wat teen die kantlyn afhardloop.

Maar hy het ook die seldsame vermoë om die bal laat te speel. Aanvalsafrigters heg groot waarde aan dié vermoë in ’n nr. 10, daarom was ek aangenaam verras om te sien dat Zekhs dit kan doen.
Om laat en naby aan die verdedigingslyn te speel is nie vir die bangbroeke of stadige spelers nie, en dit is dalk die grootste teken dat hy ’n baie doeltreffende losskakel kan wees.
In die voorbeeld hieronder hou hy die Benetton-verdediging besig, gooi twee skynbewegings in om hulle te laat byt, voordat hy uiteindelik vir Ox in die ruimte loslaat wat hy geskep het.

Hy het ook ’n goeie voetaangee, met dié poging hieronder wat pynlik naby aan ’n drie gekom het. Maar wat ek werklik interessant vind van dié skop, is weer eens dat hy die besluit só laat neem.
Dit is ’n nagmerrie vir enige verdediging en ’n baie sterk aanduiding dat hy ’n natuurlike nr. 10 is. Baie min spelers het hierdie soort kalmte wanneer die teenstanders toesak, en dit is die spelers wat jy die naaste aan die bal wil hê.

Laastens is dit van kardinale belang dat ’n nr. 10 sy verdedigingskanaal kan beheer. Dit is die belangrikste area waar spanne momentum probeer skep, dus is ’n losskakel wat swak verdedig ’n enorme aanspreeklikheid.
Zekhethelo sal my moet vergewe, maar ek was baie verras om te sien hoe hy die Italiaanse agsteman Lorenzo Cannone plat trek terwyl hy teen volle spoed op hom afstorm.
Miskien het hulle gedink die Sharks steek hom weg? Maar dit blyk Zekhs hoef vir niemand weg te kruip nie. Hy stop Cannone in sy spore, wat krag en tegniek verg, maar belangriker nog, moed. Dit lyk of verdediging ook ’n regmerkie kry.

Siyaya het goeie visie op die aanval gewys, sy voetwerk, krag en spoed is fantasties. Ons het slegs 55 minute van hom gesien, wat nie genoeg is nie. Ons moet nog sien hoe hy die spel en die tempo daarvan beheer.
En vir groot dele van dié wedstryd was hy gemaklik as tweede ontvanger, waar hy van Andre Esterhuizen afgespeel het. Maar hy is steeds jonk. En om te sien hoe hy Benetton se klein foutjies uitbuit, het die idee versterk dat ’n moderne losskakel meer moet wees as net die “spilpunt” van die ou dae.
Die nr. 10 is steeds die speler wat die aanval organiseer om geleenthede te skep, maar hy is só naby aan die aksie dat hy ook iemand moet wees wat daardie geleenthede kan uitbuit voordat hulle verdwyn.
