Oom Rugby skryf: Só kry die Sharks hul tande terug teen Munster

Aanlynrugbysensasie ‘Oom Rugby’ sal voortaan vir Die Papier skryf.
Aanlynrugbysensasie ‘Oom Rugby’ sal voortaan vir Die Papier skryf.

Verbeel jou, jou baas by die werk kom na jou toe en sê net: “Werk harder,” en loop weg. Geen verdere verduideliking nie. Net: “Werk harder.” Wat is jy veronderstel om te doen? Vinniger tik? Meer dokumente teken? Uiteindelik kán jy nie regtig harder werk nie, want jy weet nie wat op dees aarde hy bedoel nie.

Dieselfde met rugby. Ons hou daarvan om te sê spelers moet “honger” wees. ’n Sterker “poging” wys. Maar wat beteken dit regtig as ons hulle nie ’n plan en doelwit gee nie?

’n Speler kan al die passie in die wêreld hê, maar dit beteken niks as hy nie weet waarheen om dit te mik nie. Die Sharks is die afgelope jaar of twee daarvan beskuldig dat hulle nie meer passie vir die spel het nie, maar ek dink nie dit is waar nie. Geen speler draf op ’n rugbyveld uit met die doel om die minimum te gee nie.

Nee, die passie en die wil was myns insiens nog altyd daar. Daar was net een bykomende bestanddeel nodig om goed te vaar. Kom ons kyk wat.

Munster

Voordat ons begin, moet ons erken dat Munster reeds op die agtervoet was nog voor die afgelope Saterdag se afskop tussen die twee spanne. Die Sharks het van ’n drie weke lange rus af gekom, terwyl Munster ná ’n gekanselleerde vlug ’n dag laat in Suid-Afrika aangekom het.

Munster moes boonop vier internasionale spelers ná die Sesnasies-toernooi rus gee. Maar steeds: jy wen nie sommer 45–0, druk sewe drieë en hou jou teenstander heeltemal van die telbord af as jy nie heelwat dinge reg doen nie . . .

Die kernbestandeel

So, wat het gebeur dat die Sharks die afgelope naweek hul tande begin terugkry het in hul 45 – 0 oorwinning oor Munster? In een woord, eenvoud. ’n Selfs beter beskrywing is duidelikheid.

Indien daar duidelikheid vir ’n rugbyspeler gegee word, dan kry hy sekerheid. Wanneer mens sekerheid het, ontstaan intensiteit.

Die speler kan sy poging dus effektief kanaliseer. Ondersteuners sien ’n gebrek aan intensiteit soms verkeerdelik as ’n gebrek aan ’n wil. Die werklike probleem is egter dat spelers nie duidelike rigting het nie.

Wat ek Saterdag by die Sharks gesien het, was eenvoud in die wedstrydplan, duidelikheid by die spelers en dus die vermoë om hul pogings in effektiewe uitkomste te kanaliseer. Kom ons bekyk dit van nader met behulp van Opta se statistieke.

Op die aanval

Daar is ’n fantastiese syfer uit die wedstryd wat onderstreep wat ek sê. Albei spanne het bykans dieselfde hoeveelheid keer die bal gedra: die Sharks 99 keer en Munster 100 keer. Maar met die dra van die bal het die Sharks ná die kontakpunt 267m gevorder en Munster 194m. Dit is ’n groot verskil.

Die hoeveelheid meters wat gemaak word ná die kontakpunt is die vordering wat gemaak word ná ’n plettervat. Dit is duidelik die Sharks was baie meer effektief nadat hulle die bal in kontak ingedra het. Die Sharks het ’n gemiddeld van 2,7m na kontak gevorder teenoor Munster se 1.94m.

Hoe het hulle dit reggekry? Eerstens het die Sharks in ’n eenvoudige en direkte manier gespeel. Hulle het die nouer en middelgrote kanale aangeval, wat beteken hulle het altyd ondersteunig van spanmaats gehad.

Daardeur het hulle altyd spelers gehad wat agter baldaers kon aansluit, teenstanders in die lug kon uithaal en balstelers op die grond kon uithaal. Die sleutel tot sukses hiermee was dat hulle dit in beweging gedoen het. Dit was dus nie staties en voorspelbaar nie.

Oom Rugby se analise.

Sharks-spelers wat vinnig op die bal toesak, het verskeie opsies, dikwels baie laag, met uitstekende beenkrag ná kontak, vroeë ondersteuning, sterk aansluiting en akkurate skoonmaakwerk. Dit is nie kernfisika nie; daarom kon die spelers op eenvoudige take fokus en dit goed uitvoer, as ’n eenheid, ’n masjien.

Dit wys weereens: Fisieke rugby gaan nie net oor aggressie nie, dit gaan oor hoe jy kontak ontwerp. Die eenvoud in hul aanval het spelers in staat gestel om op minder dinge te fokus, maar dit beter te doen. Duidelikheid en sekerheid.

Oom Rugby se analise.

Skoppe

Skoppe het die hoeksteen van moderne aanval geword. Ek gaan nie in te veel detail daaroor uitwei nie, maar die Sharks het slim geskop, goed gejaag, uitstekend in die lug meegeding, en hulle het op hul eie terme geskop – gesteun deur hul fisieke oorheersing.

Weereens: eenvoudig en duidelik.

Die Sharks het die stewel kalm gebruik om rigting te gee, terwyl Munster se laer skoppersentasie en hoër uitgee-persentasie vir ons sê hulle het probeer speel om uit die moeilikheid uit te kom. Dit is ’n riskante en ingewikkelde manier om rugby te speel, en dit lyk of die Sharks dit nou goed verstaan.

Oom Rugby se analise.

Verdediging

Maar jou skopspel beteken niks as jou opvolglyn en verdediging nie gekoordineerd is nie. Die Sharks se verdediging lyk asof dit ’n groot tree vorentoe gegee het, en weereens is dit gebou op eenvoudige, effektiewe beginsels. Soos baie spanne deesdae, laat hulle nie te veel spelers by die afbreekpunte aansluit nie, wat vir hulle meer spelers op hul voete in die verdedigingslyn gee.

Oom Rugby se analise.

Daardie ekstra getalle in die verdedigingslyn gee hulle die vermoë om meer aggressief op te skuif en herhaaldelike twee-man-plettervatte uit te voer wat Munster summier tot stilstand geruk het.

Onder daardie soort druk kon Munster eenvoudig nie momentum bou nie, en hulle het die wedstryd met net één lynbreek klaargemaak.

Daar wag beslis moeiliker toetse, want Munster se aanval was nie op sy beste nie. Dit lyk of die Sharks ’n stewige verdedigingsformule gevind het wat hulle herhaalbaar, duidelik, eenvoudig en doeltreffend kan toepas. Krediet aan Joey Mangalo.

Oom Rugby se analise.

Vaste spel

Uiteindelik móét ons die vaste spel noem. Dit was nóg ’n eenvoudige, basiese deel van die spel waaruit die Sharks behoorlik munt geslaan het. Hulle het Munster in die skrums seergemaak en hul lynstane uitmekaar gehaal. As jou skrum onder druk is en jou lynstaan wankel, hou jy op om vrylik te speel. Jy begin gespanne speel.

Elke uitskop laat jou sweet. Elke beweging word ’n klein krisis. Elke aanraking van die bal begin met ’n bietjie minder sekerheid. Dit is ’n afwaartse glybaan – en die Sharks het dit uitstekend benut.

Uiteindelik kan ’n mens sê die Sharks het die wiel herontdek deur níé die wiel te probeer herontdek nie. Die afrigters hou dinge eenvoudig en gee aan die spelers duidelikheid. Daardie duidelikheid het sekerheid ontsluit, en daardie sekerheid bring nou intensiteit.

Dinge was vir ’n rukkie nie altyd soos dit moet wees in die Shark Tenk nie, maar op ’n nat Durbanse middag het hul ou kenmerkende karakter weer begin deurkom. Die Sharks het weer soos Sharks gelyk.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie