Oos-Vrystaatse talent wen harte as René en Liam van Diepe Waters

Die akteurs Abel Knobel en Marijke Coetser, albei van Bethlehem, is te sien in die gewilde kykNET-telenovela Diepe Waters. Knobel (34) is die nuwe gesig in die storie en vertolk die rol van Liam, ’n aantreklike en energieke driekampatleet, terwyl Coetser al geruime tyd die rol van afrigter René vertolk.

Van die eerste oomblik af dat kykers Liam in Boskruin sien hardloop, is dit duidelik dat Knobel homself ten volle in die karakter ingeleef het.

“Ek is dalk nie ’n professionele atleet nie, maar soos Liam het ek nog altyd ’n groot passie vir oefen en sport,” sê hy.

Die aktrise Marijke Coetser as René.
Die aktrise Marijke Coetser as René. FOTO: Verskaf.

Knobel het twee maande lank intensief voorberei deur twee keer per dag te oefen, ’n streng dieet te volg en ernstig te swem, alles om Liam se fisieke voorkoms en energie so geloofwaardig moontlik uit te beeld.

Hoewel dit soms vreemd was om sonder hemp op die kassie te verskyn, het Knobel se vorige rol in die Showmax-komedie Khaki Fever hom gehelp om gemakliker voor die kameras op te tree.

“Dit is die mees intense rol wat ek nog gespeel het. Die voorbereiding het my na ’n nuwe vlak van ontdekking van myself en my toneelspel geneem.”

Liam se energieke en vriendelike aard skep van die eerste oomblik af ’n dinamiese teenwoordigheid in Boskruin, en selfs sy medekarakters soos afrigter Gys Swarts (Justin Strydom) en René (Coetser) raak soms bekommerd oor sy intensiteit.

René (Marijke Coetser) deel ’n toneel met Abel.
René (Marijke Coetser) deel ’n toneel met Abel. FOTO: Verskaf.

“Nes Liam het ek ’n positiewe ingesteldheid en lus vir die lewe, maar sy energie kan mense soms oorweldig.”

Die rol beteken baie vir Knobel omdat hy sy passie vir toneelspel kan uitleef, maar boonop omdat hy saam met mede-Bethlehemiet Coetser werk.

Knobel wil in 2026 meer aandag aan sy sangloopbaan gee en sy inhoudmaatskappy, Abel Art Productions, verder uit brei. Intussen hardloop Liam steeds die strate van Boskruin plat terwyl hy die traumas van sy geheimsinnige verlede verwerk.

  • Diepe Waters is van Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien.
  • Artikel vanaf Vrystaat Kroon


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie