Iran se opperleier, Mojtaba Khamenei, het Sondag ’n beroep op Moslemlande in die streek gedoen om teen die Verenigde State en Israel te verenig in ’n skriftelike boodskap ses maande ná die begin van die oorlog in die Midde-Ooste.
Khamenei, wat aan bewind is sedert kort nadat sy pa, Ali Khamenei, aan die begin van die oorlog op 28 Februarie gedood is, is sedert sy aanstelling nog nie in die openbaar gesien nie, en die owerhede het nog geen video- of klankopname van hom vrygestel nie.
“Die oplossing vir die probleme van die Islamitiese nasies is eenheid van denke, vriendskap en samewerking op die pad van goedheid,” het hy Sondag gesê terwyl Sjiïtiese Moslems die verjaardag van die profeet Mohammed gevier het.
“Enigiemand, in enige posisie, wat enigiets doen wat tot verdeeldheid onder Moslems lei en konflik binne die Moslemgemeenskap veroorsaak, hetsy bewustelik of onbewustelik, opsetlik of onopsetlik, dien die doel van die vyande van Islam,” het hy volgens sy amptelike webwerf gesê.
Die opperleier het ’n beroep op die leiers van lande in die streek gedoen om “julle werklike vyand te erken, sy plan te verstaan en dit teë te staan”, met verwysing na die VSA en Israel.
Betrekkinge versuur
Tydens die oorlog het Iran Amerikaanse militêre basisse in die Midde-Ooste geteiken, onder meer in Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate, Jordanië, Koeweit, Katar en Bahrein.
Betrekkinge met dié lande het sedertdien versuur.
Khamenei, wat die finale sê oor belangrike staatsbeleid het, het ook ’n beroep op Iranse amptenare en burgers gedoen om verskille opsy te skuif en teen Israel en die Verenigde State saam te staan.
“Ek herhaal dat my raad aan die Iranse volk is om nie toe te laat dat enige verskille op enige manier tussen hulle ontstaan nie,” het hy gesê, in ’n herhaling van opmerkings wat hy Vrydag in ’n ander verklaring gemaak het.
“Ek verklaar dit uitdruklik: Enigiets wat sosiale samehorigheid benadeel, is verbode,” het hy in Vrydag se boodskap gesê.
Weg met die Amerikaanse dollar
Hy het Vrydag ook ’n beroep gedoen op die geleidelike ont-dollarisering van die Iranse ekonomie en op ’n verhoging in ekonomiese produksie om groei te ondersteun ná maande van ’n Amerikaanse vlootblokkade en jare van verlammende sanksies wat mense se lewensbestaan swaar getref het.
