Lions-verdedigingsafrigter en voormalige Springbok-legende Jaque Fourie het sy insigte gedeel oor die verdedigingsaspekte van die eerste Bok-toets in die Greatest Rivalry-reeks op Ellispark Saterdag.
Die Lions pak die All Blacks Dinsdagaand in Johannesburg, en Fourie is deur joernaliste gevra om sy mening te gee oor die wedstryd waarin die All Blacks met 33-16 geseëvier het om ’n voorsprong van 1-0 in die reeks van vier wedsryde te neem.
Fourie sê die manier waarop die All Blacks in die aanval opstel en van dieper af speel, stel hulle in staat om die Springbokke se vinnige opstormverdediging te omseil.
“Hulle balhanteringspoed is uitstekend en hulle speel ’n bietjie dieper. Daarom kom hulle om ons verdediging,” het Fourie gesê.
“Hulle dwing die Springbokke om baie harder van die lyn af te kom. En as ons nie ons duikslae voltooi nie, is dit baie moeilik om weer verdedigend te hergroepeer.”
Die All Blacks het Saterdag gereeld probeer om die bal uit baldraers se hande te stroop, ’n taktiek wat volgens Springbok-afrigter Rassie Erasmus Suid-Afrika onkant betrap het.
Fourie het verduidelik dat die eerste verdediger laag duik, waarna die tweede verdediger daarop fokus om die bal los te ruk.
Hy meen egter dat die sleutel lê daarin om kontak eerste te oorheers.
“Ek dink jy moet eers die kontak oorheers. Dit is die belangrikste ding. Die All Blacks het verdedigend baie verbeter,” het Fourie gesê.
“Ons het Saterdag gesien dat hulle op tye baie laag geduik het. Hulle het spelers laag platgetrek en die tweede man was onmiddellik op die bal. Daarom moet ons eerstens die kontak oorheers.”
Volgens Fourie is daar wel ’n manier om dié taktiek te neutraliseer.
“Die ondersteunende speler moet agter die baldraer inskuif en hom oor die voordeellyn kry. Dan raak dit baie moeilik om die bal te stroop.”
Dit sal interessant wees om te sien of die All Blacks dieselfde benadering weer teen die Lions Dinsdagaand toepas.
Afskop is om 19:00.
