Politieke partye en onafhanklike kandidate het nog net enkele ure om hul kandidaatbenoemings vir Suid-Afrika se 2026-plaaslike verkiesing te finaliseer voordat die sperdatum Vrydag om 17:00 verstryk.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het bevestig dat alle kandidaatbenoemings, insluitend die vereiste dokumentasie en verkiesingsdeposito’s, teen 17:00 op Vrydag 28 Augustus ingedien moet wees. Geen laat indienings sal aanvaar word nie.
Die kandidaatbenemingsproses het op 7 Augustus begin, nadat die plaaslike verkiesingsdatum amptelik as 4 November 2026 aangekondig is. Partye en onafhanklike kandidate het dus 21 kalenderdae gekry om hul dokumente en kandidaatlyste voor te berei en in te dien.
Die sperdatum is belangrik omdat dit die punt is waarop partye se deelname aan die verkiesing formeel begin vasstaan. Die OVK het gewaarsku dat geen regstellings of wysigings aan kandidaatbenoemings ná die sluitingstyd toegelaat sal word nie.
Kandidaatbenoemings kan deur die OVK se aanlyn kandidaatbenoemingstelsel of deur handaflewering by die kommissie se kantore in die munisipaliteit waarin ’n party of kandidaat wil meeding, ingedien word.
Wat gebeur ná 17:00?
Die sluiting van kandidaatbenoemings beteken nie dat kiesers môre reeds die finale kandidaatlys sal hê nie. Die OVK moet die ingediende benoemings verwerk en die finale lyste later publiseer.
Volgens die verkiesingstydlyn word die finale kandidaatlys op 16 September 2026 gepubliseer.
Verskeie politieke partye het reeds begin om hul kandidate vir die 2026-plaaslike verkiesing bekend te maak, hoewel die formele kandidaatbenemingsproses eers Vrydag om 17:00 sluit. Die DA het reeds sy kandidaatkeuringsproses vir al 257 munisipaliteite afgehandel, terwyl BOSA aangekondig het dat hy 794 kandidate in 24 munisipaliteite gaan stel, waaronder 122 in Johannesburg, 112 in Tshwane en 83 in Ekurhuleni. Die ANC het intussen reeds ’n lys van moontlike burgemeesterskandidate vir die land se agt metros bekend gemaak, maar dié name is nog nie noodwendig die party se finale benoemings nie. In Johannesburg het die DA ook reeds Helen Zille as sy burgemeesterskandidaat aangekondig.
