Die DA verwerp die besluit van die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie (VOK) om die kantoorruimte by die Naledi Mall in die sentrale sakekern van Phuthaditjhaba in Qwaqwa in studenteverblyf te omskep.
Só sê Leona Kleynhans, DA-raadslid van die Thabo Mofutsanyana-munisipaliteit.
Kleynhans sê dis onduidelik hoe studenteverblyf ekonomiese ontwikkeling in Qwaqwa gaan bevorder. “Die voorsiening van studenteverblyf vorm nie deel van die VOK se mandaat nie.”
Qwaqwa het ’n kampus van die Universiteit van die Vrystaat in sy omgewing.
Prof. Samuel Mosola, die waarnemende uitvoerende hoof van die VOK, het onlangs gesê opknappingswerk en omskakeling na studenteverblyf sal in Januarie volgende jaar begin.
Kleynhans sê tydens ’n onlangse toesigbesoek aan Naledi Mall in die hoofstraat van Phuthaditjhaba, wat deur die VOK-bestuur word, is die volle omvang van die staatsentiteit se versuim om dié gedeelte in stand te hou en werkgeleenthede te skep, blootgelê.
Die uitgestrekte kompleks, wat uit sowat 30 kleinhandelwinkels en 150 kantoorruimtes bestaan, is vuil, vervalle en feitlik verlate. Van dié kantoorruimtes is slegs ongeveer 50 na bewering in gebruik.
Kleynhans sê studente wat aan dié hoëronderwysinstelling gradueer, het werk nodig. “Ekonomiese ontwikkeling is die mandaat van die VOS, wat pasgegradueerde professionele mense behoort te ondersteun en te help om hul loopbane te begin.”
Kleynhans sê die Naledi Mall-kompleks kan, indien dit behoorlik bestuur word, ’n sentrum van innovasie en entrepreneurskap wees.

“In plaas daarvan staan dit as ’n vervalle wit olifant op ’n uitstekende ligging – ’n bewys van die ANC-regering se versuim om werk te skep en die regte omstandighede vir entrepreneurskap en loopbaanontwikkeling te vestig.”
Kleynhans sê die honderde VOK-bestuurde vervalle en verlate fabrieke in die drie nywerheidsgebiede van Qwaqwa, waar bykans geen vervaardiging plaasvind nie, is nog ’n aanduiding dat die VOK misluk het en ontbind behoort te word.
“Die bankrot entiteit stel nou voor om die mark vir studenteverblyf te betree, klaarblyklik in ’n misplaaste poging om sy finansiële posisie te verbeter.”
Besluit nog nie finaal
Moses Ketso Makume, LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme in die Vrystaat, sê egter die besluit oor die studentehuisomskepping, is nog nie finaal nie. Makume sê hy en Maqueen Letsoha-Mathae, die premier van die Vrystaat, sou eersdaags met die VOK-raad ontmoet om te praat oor die finansiële status van die VOK en ’n regrukplan.
“Die probleem is dat die VOK tans regoor die Vrystaat baie eiendomme het wat in onbruik staan en gevandaliseer word.
“Eerder as wat dit leeg staan, is dit beter om dit weer in gebruik te stel. In Qwaqwa is daar ’n probleem omdat inwoners hul huise omskep het om voorsiening te maak vir studentebehuising. Ons kan ook die brood uit hul monde vat as ons die Mall vir studentebehuising beskikbaar stel. Ons sal ’n besluit hieroor moet neem.”
• Die Papier verneem daar is ook diegene wat glo dat dit beter sal wees as die Mall wel vir studentebehuising gebruik sal word omdat die Mall met geld van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) opgeknap sal word. Dit sal dus nie op die VOK of Vrystaatse provinsiale regering se rekening wees nie.
