Die Kantoor vir die Nakoming van Gesondheidstandaarde (KNGS) het ’n dringende waarskuwing aan gesondheidsorgpraktisyns regoor Suid-Afrika uitgereik nadat berigte ontvang is van bedrieërs wat hul as amptelike gesondheidsinspekteurs voordoen met die doel om omkoopgeld te eis.
Die Kantoor het sy kommer uitgespreek ná ’n onlangse voorval waarin ’n individu ’n gesondheidspraktyk geteiken het. Die persoon het valslik beweer dat ’n inspeksie geskeduleer is en het kontant geëis om die fasiliteit van beweerde oortredings van gesondheidstandaarde “vry te spreek”.
Bevestiging is ontvang dat geen amptelike inspeksie vir die betrokke praktyk beplan was nie en dat die individu geen verbintenis met die organisasie gehad het nie.
Maak altyd seker dat die identiteit van inspekteurs geverifieer word vóórdat toegang tot fasiliteite verleen word, aldus Ricardo Mahlakanya, woordvoerder van die Kantoor. Hierdie waarskuwing dien as ’n herinnering dat bedrieërs toenemend staats- en regulatoriese instellings naboots om geld van niksvermoedende slagoffers te bekom.
Belangrike waarskuwings
- Amptelike inspekteurs sal nooit kontant, geskenke of enige persoonlike betaling aanvaar nie.
- Geen betaling sal inspeksieresultate of regulatoriese besluite kan beïnvloed nie.
- Gemagtigde inspekteurs sal altyd ’n geldige KNGS-identiteitskaart of amptelike dokumentasie dra wat deur die uitvoerende hoof onderteken is.
- Wetlike inspeksie-uitkomste sal nie deur omkoopgeld of persoonlike voordele verander kan word nie.
Meld dit aan
Gesondheidswerkers en lede van die publiek word aangemoedig om enige verdagte gedrag aan te meld, insluitend:
- Nabootsing van inspekteurs,
- Bedrog,
- Omkopery,
- Korrupsie, of
- Enige ander onetiese optrede
Kontak die Bedrog- en Etiekhulplyn by 800 003 231 as jy enige onraad vermoed.
