Springbok-legende Breyton Paulse sê daar was “’n paar vreemde besluite” tydens die Stormers se 38-21-nederlaag teen die All Blacks Vrydagaand in Kaapstad.
Die wedstryd het die Greatest Rivalry-toer voor 47 000 ondersteuners by die Kaapstad-stadion afgeskop.
Stormers-afrigter John Dobson het ná afloop van die wedstryd sy frustrasie uitgespreek oor sekere skeidsregterbesluite, waaronder ’n skrum waarin die Stormers die All Blacks agteruit gedryf het, maar nie vir hul poging beloon is nie. Hy het ook verwys na ’n skouerbotsing teen die senter Jonathan Roche tydens die opbou tot een van die All Blacks se drieë.
Paulse het erken dat daar besluite was waaroor die Stormers ongelukkig kon voel.
“Wat ’n dapper vertoning deur die Stormers. Die wedstryd kon enige kant toe gegaan het in die laaste 15 tot 20 minute,” het Paulse gesê.
Hy het egter gewaarsku dat skeidsregterbesluite soms teen ’n span kan tel.
“Daar was beslis ’n paar vreemde besluite, maar oor die algemeen gaan besluite soms teen jou en soms in jou guns.”
Paulse het ook die groter prentjie beklemtoon en gesê die opening van die toer was ’n skouspel.
“Wat ’n begin tot die toer. Ek dink almal het dit geniet,” het hy gesê.
Met ’n groot skare, goeie weer en ’n besonderse atmosfeer het die wedstryd volgens Paulse ’n onvergeetlike rugbygeleentheid opgelewer.
