Die nuus dat ’n 35-jarige vrou, glo ’n prokureur, Maandagoggend in die Johannesburgse middestad doodgeskiet is, het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.
Die vrou is glo by die kruising van Fox- en Joubertstraat, naby die kantore van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie. Volgens misdaadjoernalis Yusuf Abramjee is die motief vir die moord nog onduidelik.
’n Ooggetuie het aan die media gesê dat twee mans glo op haar afgeloop en haar drie keer in die kop geskiet het. Volgens EWN het die polisie bevestig dat hulle ’n saak van moord ondersoek, maar dat geen verdagtes al in hegtenis geneem is nie.
