Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, en die span se regsadviseur en voormalige toets-skeidsregter, Jaco Peyper, meen die Springbokke is volkome geregtig om die beskikbare tyd te gebruik wanneer hulle vir hul vaste fasette gereed maak.
Daar bestaan ’n duidelike narratief vanuit die All Blacks-kamp en die Nieu-Seelandse media dat die Springbokke doelbewus probeer om die spel so veel as moontlik te vertraag, wat hul span se vermoë beïnvloed om die vinnige spel te speel waarna hulle streef.
Peyper het egter die Wêreldrugby-reëls oor die tyd wat toegelaat word vir vaste fasette verduidelik en gesê die Springbokke funksioneer binne die voorgeskrewe raamwerk. Volgens hom het die span vanjaar nog geen klagtes ontvang dat hulle wedstryde vertraag nie.

“Ek dink die belangrikste punt is dat ons in die vyf wedstryde wat ons gespeel het, nie een keer terugvoer ontvang het dat ons die spel vertraag het nie,” het Peyper gesê toe hy oor die voortdurende narratief van die All Blacks uitgevra is.
“Miskien het hulle teen spanne gespeel wat nog vir die komende seisoen voorberei. Miskien is daar iets daarin, maar ons het beslis geen negatiewe terugvoer daaroor ontvang nie.”
Peyper het beklemtoon dat die Springbokke die tydsraamwerke nakom wat Wêreldrugby vir vaste fasette bepaal. Volgens dié reël het spanne 30 sekondes vanaf die oomblik wanneer die skeidsregter die merk aandui om die vaste faset te vorm.
“Die reël is baie duidelik. Vanaf die oomblik wanneer die skeidsregter sy voet neersit om die merk aan te dui, of dit nou ’n skrum of ’n lynstaan is, het jy 30 sekondes om gereed te raak. Dit begin nie by die fluitjie nie, maar wanneer die merk aangedui word,” het Peyper verduidelik.
“Ons moet daarby hou, ons respekteer dit en ons oefen daarvolgens.”

Erasmus het ook sy mening gelug en verwys na die Springbokke se laaste twee wedstryde teen Nieu-Seeland in Auckland en Wellington verlede jaar.
“Die waarheid is dat mense na ons laaste twee wedstryde teen Nieu-Seeland in Auckland en Wellington kan gaan kyk. Was dit stadige wedstryde?” het Erasmus gevra.
“ ’n Ander frustrerende aspek is dat ons nie eens betrokke was by hierdie drie wedstryde nie [waar die All Blacks teen Suid-Afrikaanse VRK-spanne gespeel het].”
“Wat doen jy tot by daardie lynstaan? Jy kan bid as jy wil, jy kan op jou knieë gaan.”
“As jy wil saamdrom, kan jy saamdrom. Ons het 11 tale en ons moet seker maak almal verstaan die lynstaan-beweging.”
“Jy mag dus saamdrom. Wanneer die skeidsregter die merk gee, moet die lynstaan binne 30 sekondes gevorm word. Daar is geen reël wat sê jy mag nie tyd neem voor die merk gegee word nie,” het Erasmus bygevoeg.
Peyper het gesê hy het volle vertroue dat die skeidsregters die reëls korrek sal toepas en daarop gewys dat lynstane nie die enigste manier is waarop die tempo van ’n wedstryd vertraag kan word nie.
Met die All Blacks wat verskeie strafskoppe afgestaan het vir oortredings in losgemaal-verdediging gedurende hul drie wedstryde, het Peyper daarop gewys dat spanne wat onder druk verkeer dikwels ook op dié manier die tempo van die wedstryd vertraag.
“Ek het al die narratiewe gesien oor hoe spanne wedstryde by hoogte bo seespieël by vaste fasette vertraag. Ek het baie Super Rugby-wedstryde hier geblaas waar reisende spanne die tempo vertraag het,” het Peyper gesê.
“Maar jy kan die spel ook vertraag deur herhaaldelik by die afbreekpunt of in die losgemaal te oortree en sodoende die tempo te breek. Die goeie nuus is dat daar sterk en ervare skeidsregters vir hierdie wedstryde aangestel is en ons is baie duidelik oor die riglyne.
“Dit hang dus van die spanne af. Wie ook al onder druk is, sal waarskynlik probeer om die tempo te vertraag,” het Peyper bygevoeg.
Dit lyk dus of die Springbok-bestuur nie net gereed is om Nieu-Seeland se narratief oor stadige spel van die hand te wys nie, maar ook met ’n paar kwinkslae terug te veg.
En dít beloof beslis om van hierdie toetsreeks ’n besonder boeiende stryd te maak.
