Reeksmoordenaar of nie?

DA-lede ruk vandeesweek op na die Kempton Park-polisiekantoor oor die reeks moorde. Foto: OJ Koloti, Gallo Images

Dr. Micki Pistorius, wêreldbekende profileerder en die stigter van wat deesdae bekend staan as die Suid-Afrikaanse Polisiediens se ondersoekende sielkunde-eenheid, het met Die Papier Praat gesels oor die moontlikheid van ʼn reeksmoordenaar.

Pistorius sê dis moeilik om kommentaar te lewer omdat sy nie self by die ondersoek betrokke is nie, en staatmaak op mediaberigte. Gebaseer op haar ervaring met reeksmoordenaars sien sy wel “definitiewe ooreenkomste” tussen die slagoffers, soos dat hulle in dieselfde ouderdomsgroep val en almal half geklee of kaal was toe hulle gevind is.

Die plekke waar die liggame gevind is, kan ook ʼn belangrike leidraad wees. “Hulle is almal binne 40 kilometer van mekaar gevind. Mens kan dit maklik ry as jy ʼn voertuig het.” Dat ʼn taakspan so kort na verlede week se ontdekking van die vier liggame in Rhodesfield saamgestel is en ʼn beloning uitgeloof is, is volgens Pistorius die regte besluit.

Dr. Micki Pistorius

“Dis ʼn baie goeie taakspan onder leiding van Generaal Mbusi Khumalo van Gauteng.” Speurders van die destydse moord- en roof-eenheid wat later saam met haar eenheid reeksmoorde ondersoek het, is volgens haar ook deel van die span. Sy beskryf ’n reeksmoordondersoek as “verskriklik moeilik, want dis vreemdeling op vreemdeling.”

Sy loof die polisie se besluit om die publiek te waarsku om op hul hoede te wees, en sê dis belangrik dat vroue dié waarskuwing ernstig opneem. Pistorius sê sy besef die publiek mag tans voel dat die polisie hulle nie genoeg beskerm nie. “Maar daardie taakspan is op die oomblik baie besig – dit kan ek jou waarborg.”

‘Nie so ’n algemene verskynsel’

Naomi Griffiths is ʼn kriminoloog van Pretoria wat ook voorheen verbonde was aan die polisie se ondersoekende sielkunde-eenheid. Griffiths sê sy is “altyd versigtig” om die term reeksmoordenaar te gebruik.

“Dis nie so ʼn algemene verskynsel in Suid-Afrika soos wat mense dink nie.” Griffiths sê daar kan wel uit beskikbare inligting afgelei word dat die modus operandi in al agt gevalle ooreenstem. “Veral in die Rhodesfield-sake.”

Sy is egter “nie so seker” dat die ander vier liggame wat elders gevind is, wel met dieselfde moordenaar verbind kan word nie. Oor die ouderdomsprofiel van die slagoffers sê sy dis “eintlik maar ’n feit” dat vroue in hul dertigs dikwels in hul verhoudings die slagoffers is van geweld.

Baie sulke vroue word vermoor. Die feit dat die eerste ses liggame wat gevind is almal naby die R21 gevind is, kan daarop dui dat die moordenaar toegang het tot ʼn voertuig.

Sy meen dis “rêrig maklik” om ʼn lyk naby ʼn snelweg af te laai, aangesien baie motors gereeld langs die snelweg stilhou of staan.

Naomi Griffiths, ’n kriminoloog

Só kon moordenaar polisie fnuik

Griffiths verduidelik dat ʼn reeksmoordenaar vir ʼn ruk aktief kan wees sonder dat die polisie dit besef. Dit kan toegeskryf word aan die polisie se benadering om op spesifieke geografiese sektore te fokus (sektorpolisiëring), eerder as om slegs op gespesialiseerde eenhede staat te maak wat oor groter geografiese gebiede funksioneer.

Swak kommunikasie tussen die verskillende sektore kan veroorsaak dat moorde nie dadelik met mekaar verbind word nie. Dit kan volgens haar die rede wees dat ʼn taakspan nou eers saamgestel is, al is die eerste liggaam reeds in Julie gevind. “Soos ons in die laaste paar dae gesien het, het hulle reeds na ʼn groter gebied begin kyk en alles begin bymekaar sit.”

‘Verkeerde plek, verkeerde tyd’

Op die vraag of ʼn reeksmoordenaar sal afwyk van die soort slagoffer wat hy in gedagte het, sê Griffiths dat reeksmoordenaars wel opportunisties kan optree. As hy dus toevallig ʼn potensiele slagoffer raaksien en sy voldoen aan die profiel, kan sy moontlik ’n teiken word.

Volgens Griffiths kon Elizabeth “Tsontso” Moselakgomo, wat tydens haar daaglikse drafsessie verdwyn het, moontlik op die verkeerde tyd op die verkeerde plek gewees het. Sy het in Kemptonpark verdwyn, en is sover bekend die enigste slagoffer wat in oefenklere geklee was.

Moselakgomo is een van slegs vier vroue wat tot dusver geïdentifiseer is. Min is bekend oor die ander ses slagoffers of die tye en plekke waar hulle verdwyn het.

‘70 tot 75% kans’

Dr. Gérard Labuschagne, ’n kliniese sielkundige en voormalige hoof van die polisie se ondersoekende sielkunde-eenheid, sê daar is ʼn “70 tot 75 persent” moontlikheid dat die vier lyke wat in Rhodesfield gevind is, die werk van ʼn reeksmoordenaar is.

“Ek dink dis baie waarskynlik dat sommige van die sake verbind kan word. Dit verg net twee sake wat verbind kan word om ʼn reeksmoord genoem te word.” Volgens hom is daar sekere faktore wat die SAPD se beleid oor reeksmoord-ondersoeke, wat in 2016 goedgekeur is, te aktiveer.

Dit sluit in dat die liggame so naby aan mekaar en binne ʼn sekere tyd van mekaar gevind is, en dat die slagoffers se profiele ooreenkom. Labuschagne sê selfs al kan al die moorde nie met een moordenaar verbind word nie, is dit steeds ʼn goeie ding dat dit deel vorm van dieselfde ondersoek.

Dr. Gérard Labuschagne

So kan ondersoekers ʼn tree voor die moordenaar/s bly. “Dit maak dan nie saak wat jy dit noem nie, want die nodige kundiges is reeds betrokke.” “As dit later blyk dat party van die sake – of selfs al die sake – nie met mekaar verbind word nie, het dit steeds meer aandag gekry as wanneer dit oorgelaat word aan ʼn speurder by die plaaslike polisiestasie.”

Labuschagne sê die polisie se huiwering om dit ʼn reeksmoord-ondersoek te noem, kan verskeie redes hê. “As die sake nie verbind is nie, kan dit hulle laat dom lyk. Ons weet ook nie wat hulle weet nie.” Om te sê daar is ʼn reeksmoordenaar bedrywig, kan volgens hom ook onnodige paniek veroorsaak. “Maar dit veroorsaak reeds paniek dat 8 vroue dood is, of dit nou ʼn reeksmoordenaar is of nie.”

Volgens Labuschagne is daar nie meer enige profileerders oor in die polisie nie. “Die laaste een, luitenant-kolonel Elmarie Myburgh, het in Maart vanjaar afgetree. Maar daar is mense wat opleiding en ervaring het in die ondersoek van reeksmoordsake wat benut kan word.” Een so iemand, sê Labuschagne, is luitenant-kolonel Mike van Aardt, ʼn ervare reeksmoord-ondersoeker, wat deesdae verbonde is aan die SAPD se hoofkantoor.

Griffiths het aan Die Papier gesê daar is tans nog drie kriminoloë oor in die polisie. “Hulle word deesdae in Suid-Afrika gedragsanaliste genoem. Die term profileerder word nie meer gebruik nie.”

Kyk die volledige onderhoud tussen Ilze Salzwedel en Micki Pistorius hier:


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos