Die regering het ingrypende hervormings bekend gemaak om beskerming vir fluitjieblasers te versterk en erken dat vrees vir vergelding, finansiële ondergang en moord mense stilgemaak het wat korrupsie kon ontbloot.
Die minister van justisie en staatkundige ontwikkeling, Mmamaloko Kubayi, het Donderdag die Wetsontwerp op Beskermde Openbaarmaking vir openbare kommentaar vrygestel en dit as ’n kritieke ingryping beskryf om individue wat onreg aanmeld, te beskerm.
Die voorgestelde wetgewing spruit uit bevindings van die Zondo-kommissie, asook aanbevelings van die Nasionale Teenkorrupsie-Adviesraad
Hoë prys vir die ontbloot van korrupsie
Kubayi het gesê bestaande wette het nie daarin geslaag om fluitjieblasers voldoende te beskerm nie, met baie wat skorsing, afdanking en vertraagde uitbetalings van voordele ervaar. Sommige is selfs vermoor.
Sy het verwys na gevalle soos Babita Deokaran, ’n senior finansiële amptenaar by die Gautengse departement van gesondheid, wat in Augustus 2021 buite haar huis in Johannesburg doodgeskiet is nadat sy korrupsie in ’n tender vir persoonlike beskermende toerusting ter waarde van meer as R330 miljoen ontbloot het.
Nog ’n geval is dié van Marius (Vlam) van der Merwe, ’n getuie by die Madlanga-kommissie wat verlede jaar onreëlmatighede onder lede van die Ekurhuleni-metro polisie, die SAPD en private sekuriteit ontbloot het. Kort ná sy getuienis is hy voor sy familie doodgeskiet.
Die minister het ook verwys na Martha Ngoye, Athol Williams en Mpho Mafole as voorbeelde van individue wat gely het omdat hulle korrupsie ontbloot het.
Baie fluitjieblasers moet ingewikkelde regsprosesse sonder ondersteuning navigeer, dikwels nadat hulle hul inkomste en bates verloor het, het Kubayi gesê.
