Rory McIlroy het sy naam in Meesters-geskiedenis verewig deur slegs die vierde speler in die toernooi se geskiedenis te word wat sy titel suksesvol by Augusta National te kon verdedig.
Die Noord-Ierland-gholfspeler moes deur ’n senutergende finale ronde op Sondag worstel om wêreld se voorste speler, Scottie Scheffler, met een hou af te skud om sy sesde major-kampioenskap en ’n verstommende prysgeld van $4,5 miljoen (sowat R74 miljoen) te wen.
McIlroy se naam word nou saam met dié van Tiger Woods, Jack Nicklaus en Nick Faldo genoem as daar oor spelers gepraat word om agtereenvolgende kere die Meesterstoernooi te wen.
Aanvanklik moes McIlroy 17 jaar lank wag voordat hy die Groen Baadjie vir die eerste keer kon aantrek, so dit is nie te versmaai om dit die volgende jaar weer reg te kry nie.
“Dis maar net hoe dinge verloop,” het McIlroy ietwat in ongeloof gesê terwyl hy steeds die omvang van sy prestasie probeer verwerk het. “Ek dink al my volharding by hierdie gholftoernooi oor die jare begin regtig vrugte afwerp.”
