Suid-Afrika kan dalk Amerikaanse invoertariewe van 12,5% in die gesig staar, volgens ’n verslag deur die Amerikaanse handelsverteenwoordiger vandeesweek.
Die verslag is die gevolg van ’n ondersoek na 60 ekonomieë, wat Suid-Afrika insluit, oor die vraag of hulle die invoer van goedere wat met dwangarbeid vervaardig is, verbied en dié verbod doeltreffend afdwing.
In hierdie stadium is die 12,5% nog net ’n voorgestelde tarief en openbare verhore in Julie sal uiteindelik bepaal of dit bindend word.
Vir Amerika maak dit saak, want hy reken as hierdie wette nié deur sy handelsvennote afgedwing word nie, word Amerikaanse ondernemings benadeel.
Een rede is dat goedere wat met dwangarbeid vervaardig word, waarskynlik goedkoper is as goedere wat onder normale arbeidswette vervaardig word.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die Landbousakekamer van Suid-Afrika (Agbiz) en presidensiële gesant vir landbou en grond reken hoewel hierdie tarief “uitdagend” sal wees, dit steeds veel beter is as die “wederkerige” invoertariewe van 30% wat pres. Donald Trump se administrasie aanvanklik teen Suid-Afrika ingestel het.
“In landbou sal daar op van ons mededingers, soos Australië en Nieu-Seeland, ’n soortgelyke tarief gehef word,” het Sihlobo Donderdag in sy blog geskryf.
Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededining het Donderdag in ’n kort verklaring gesê Suid-Afrika gehoorsaam “alle plaaslike en internasionale verpligtinge in terme van dwangarbeidspraktyke”.
Hy het Amerika uitgenooi om hieroor te praat.
