SA spanne maak skoonskip in VRK: Kan al 4 die uitkloprondes haal?

Makazole Mapimpi het Saterdag in sy 100ste wedstryd vir die Sharks gespeel.
Makazole Mapimpi het Saterdag in sy 100ste wedstryd vir die Sharks gespeel.

Dít gebeur nie sommer dat al vier Suid-Afrikaanse spanne hul wedstryde oor dieselfde naweek in die Verenigde Rugbykampioenskap wen nie.

Hoewel sommige spanne se plek op die punteleer beter as ander lyk, het daar tog ’n interessante vraag ná die sterk vertonings ontstaan: Kan al vier spanne die uitkloprondes haal?

Met slegs vyf rondes oor, blyk dit of die Fidelity Securedrive Lions, DHL Stormers, Vodacom Bulls én Hollywoodbets Sharks die struikelblokke wat hulle tot dusver toe ervaar het, baas geraak het.

En net betyds om onder die eerste agt plekke op die puntelys te eindig voordat die kwarteindrondes later vanjaar afskop.

Nie heeltemal onmoontlik nie, want drie uit die vier spanne boer reeds daar. En die Sharks, wat in 11de plek is, het van hul moeilikste wedstryd reeds agter die rug.

Die Bulls het Cardiff 40-7 ore aangesit, terwyl die Lions ook ’n sterk Edinburgh-span op Ellispark met 54-17 geklop het.

Munster kon nie ’n enkele punt teen die Sharks aanteken nie en die telling van 45-0 sal hul moed knak voor volgende week se kragmeting met die Bulls op Loftus Versfeld. Hoewel die Stormers nie so oortuigende oorwinning soos die ander spanne kon behaal nie, het hulle 29-21 wen teen die Dragons vir hulle vyf punte op die puntelys besorg.

Die hoogtepunt van die naweek was Makazole Mapimpi wat in sy 100ste wedstryd vir die Sharks twee drieë in twee minute gedruk het. Die tweede drie was een van sy bestes in ’n Sharks-trui toe hy van Munster se afskop af reguit deurgehardloop het om in die hoek te druk.

Ronde 14:

Vrydag, 27 Maart

19:00 Sharks t. Cardiff, Hollywoodbets Kings Park

Saterdag, 28 Maart

14:00 Bulls t. Munster, Loftus Versfeld

16:30 Lions t. Dragons, Ellis Park

19:00 Stormers t. Edinburgh, DHL Stadion

Hier is die naweek se hoogtepunte:

Bulls t. Cardiff

Lions t. Edinburgh

Sharks t. Munster

Stormers t. Dragons


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie