Sege vir Wildekus-gemeenskappe: Hof beslis Shell en Impact Africa mag nie eksploreer

Die Wildekus se klowe.
Die Wildekus se klowe. Foto: Verskaf.

Shell en Impact Africa sal ’n nuwe aansoekproses moet begin as hulle weer buitelandse olie- en gaseksplorasie aan Suid-Afrika se Wildekus wil doen, nadat die land se hoogste hof vandag in die guns van die kusgemeenskappe en omgewingsbewaringsorganisasies beslis het.

Die saak spruit uit ’n eksplorasiereg wat in 2014 aan Impact Africa toegestaan is vir olie- en gaseksplorasie aan Suid-Afrika se Wildekus. Shell en Impact Africa het later elk ’n belang van 50% in die eksplorasiereg gehad.

Daar het ’n regstryd ontstaan oor of kusgemeenskappe behoorlik geraadpleeg is voordat die eksplorasiereg toegestaan is, en wat seismiese eksplorasie vir die omgewing kan inhou.

Die Keirivier aan die Wildekus.
Die Keirivier aan die Wildekus. Foto: Verskaf.

Die geskil het laat in 2021 verskerp toe Shell beplan het om met ’n seismiese opnames langs die kus te begin.

Seismiese opnames gebruik sterk klankgolwe om olie- en gasreserwes onder die seebodem op te spoor.

Die gemeenskappe wat die opnames teengestaan het, het aangevoer dat dit die mariene omgewing, hul bestaansmiddele en hul kulturele en geestelike verbintenis met die see kan benadeel.

Gemeenskappe en omgewingsbewaringsorganisasies het dringende hofstappe gedoen om die opname te stuit, en ’n tweede interdik het uiteindelik die werk tot stilstand gebring.

Vissergemeenskappe.
Vissergemeenskappe. Foto: Verskaf.

In September 2022 het die hooggeregshof in Makhanda die eksplorasiereg tersyde gestel nadat bevind is dat geraakte gemeenskappe nie voldoende geraadpleeg is toe die reg toegestaan is nie.

Shell, Impact Africa en die minister van minerale hulpbronne het egter teen dié beslissing geappelleer.

Die appèlhof in Bloemfontein het met die hoë hof saamgestem dat die eksplorasiereg onregmatig toegestaan is, maar het nie die deur vir die projek heeltemal gesluit nie. Die eksplorasiereg, hoewel onregmatig, was steeds in plek.

Dit het beteken dat die minister ’n hernuwingsaansoek kon oorweeg en dat ’n verdere openbaredeelnameproses kon plaasvind om die gebreke wat die hof geïdentifiseer het, te probeer regstel. Die eksplorasieproses sou dan kon hervat.

Die gemeenskappe wat die opnames teengestaan het, het aangevoer dat dit die mariene omgewing, hul bestaansmiddele en hul kulturele en geestelike verbintenis met die see kan benadeel.
Die gemeenskappe wat die opnames teengestaan het, het aangevoer dat dit die mariene omgewing, hul bestaansmiddele en hul kulturele en geestelike verbintenis met die see kan benadeel. Foto: Verskaf.

Die Wildekus-gemeenskappe het egter saam met Sustaining the Wild Coast, Natural Justice, Greenpeace Africa en All Rise-prokureurs die saak na die konstitusionele hof geneem om enige moontlikheid vir ’n eksplorasieproses wat die maatskappye en die minister nog kon probeer, heeltemal in die bek te ruk.

Die aansoekers het aangevoer dat die voortbestaan van die onregmatige eksplorasiereg die geraakte gemeenskappe se reg op billike administratiewe optrede, asook hul bestaansmiddele en hul kulturele en spirituele verbintenis met die see, ondermyn.

Hulle het aangevoer dat die appèlhof se bevel nie duidelik uiteensit watter proses Shell en die minister moet volg voordat eksplorasie kan plaasvind nie, wat die moontlikheid van verdere litigasie skep.

Vissermanne.
Vissermanne. Foto: Verskaf.

Hulle het ook volgehou dat ’n omgewingsmagtiging kragtens die huidige regulatoriese raamwerk vereis sal word voordat eksplorasie kon voortgaan.

Die konstitusionele hof het Vrydag gelas dat die gebreke in die oorspronklike toekenning van die eksplorasiereg nie deur ’n latere konsultasieproses tydens ’n hernuwingsaansoek reggestel kan word nie en dat enige verdere poging om eksplorasieregte te bekom in wese ’n nuwe aansoek en nuwe besluitnemingsproses sal verg.

Die geskil speel ook af teen ’n veranderde klimaatbeleidsagtergrond. Die Wet op Klimaatsverandering, wat in Maart 2025 in werking getree het, skep ’n wetgewende raamwerk vir Suid-Afrika se langtermynoorgang na ’n laekoolstof- en klimaatsbestande ekonomie en samelewing.

Die aansoekers het hulle beroep op die grondwetlike reg op ’n omgewing wat nie skadelik vir gesondheid of welstand is nie, terwyl omgewingsbewaringsgroepe aangevoer het dat verdere grootskaalse eksplorasie na fossielbrandstowwe moeilik met Suid-Afrika se klimaatverpligtinge versoen kon word.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos