Die Blitsbokke sal nou angstig moet wag en hoop dat Nieu-Seeland klop vir Argentinië, nadat hulle self met 15-12 teen Fidji verloor het in ’n Groep A-wedstryd by die Bordeaux-sewestoernooi Saterdag.
Indien Nieu-Seeland wen, sal die Blitsbokke as een van die beste derde-geplaaste spanne vir die uitklopwedstryde kwalifiseer.
Die Blitsbokke het vroeg in die wedstryd ’n terugslag gekry toe Siviwe Soyizwapi vir ’n laat duikslag gestraf is, en Fidji het voordeel getrek toe Apete Narogo die eerste drie gedruk het vir ’n 5-0 voorsprong.
Uitstekende spel van Tristan Leyds, waar hy verskeie Fidjiaanse verdedigers geklop het, het die Blitsbokke terug in die wedstryd gebring met ’n drie deur Shilton van Wyk, wat deur Ricardo Duarttee verdoel is vir ’n 7-5 voorsprong.
Fidji het egter net voor rustyd weer die voortou geneem toe ’n aanval van diep af geëindig het met ’n drie vir George Bose, wat hulle met ’n 10-7-voorsprong teen rustyd gegee het.
Fidji het hul voorsprong vroeg in die tweede helfte gerek met nog ’n langafstand-aanval toe hulle ruimte aan die regterkant geskep het vir Viwa Naduvalo om te druk vir ’n 15-7 voorsprong.
Die Blitsbokke het dringend iets spesiaals nodig gehad, aangesien slegs ’n oorwinning of ’n bonuspunt-nederlaag hulle sou deurstuur.
Naduvalo het gedink hy het sy tweede drie kort daarna gedruk, maar die TV-skeidsregter het beslis dat hy die bal oor die doellyn verloor het, wat die Blitsbokke ’n laaste kans gegee het met twee minute oor.
Fidji het toe ’n speler verloor weens ’n gevaarlike duikslag, wat die Blitsbokke ’n numeriese voordeel tot die einde van die wedstryd gegee het. Hulle het dit benut toe Sebastiaan Jobb oor die doellyn geduik het om die telling te verminder na 15-12, maar hulle het eenvoudig nie tyd gehad om die wedstryd te red nie.
Punte
Blitzbokke
Drieë: Shilton van Wyk, Sebastiaan Jobb
Verdoelings: Ricardo Duarttee
Fidji
Drieë: Apete Narogo, George Bose, Viwa Naduvalo
