Suid-Afrika se voorste skoolseun-rugbywedstryde het dié naweek reusekragmetings opgelewer: Grey College het Monument met 31-15 geklop, Paul Roos het Affies met 45-28 gewen en Westville het na verlede week se nederlaag teen Hilton vir Maritzburg College uitoorlê.
Hier is van die uitblinkers wat die kollig gesteel het:
Travis Pheiffer (Paul Roos)
Die Paul Roos-losskakel was eenvoudig in sy element. Pheiffer het twee drieë gedruk en het met taktiese insig en visie vir die spel die verdediging manipuleer en spasie identifiseer om die Affies-agterlyn die hele middag te laat spartel.
Tristan Armitage (Paul Roos)
Soos ’n pure rugbyveteraan het skrumskakel Armitage met taktiese skoppies Affies in die verkeerde kant van die veld vasgepen gehou. Hy het ook, saam met Pheiffer, seker gemaak hul bly giftig op die aanval.
Joshua Gouws (Affies)
Dié Affies-vleuel, het ten spyte van die feit dat sy span nie die wa deur die drif kon trek nie, uitstekende rugby gespeel. Hy het sy blitsige spoed met kragtige lopies gekombineer om twee drieë te druk.
Ruan Genis (Monument)
Genis is ’n werkesel wat voordurend vir geleenthede soek. Hy is sodoende met twee drieë beloon.
Christoff Crous (Grey College)
Die Grey College-losskakel het ’n uitstekende wedstryd gehad en die spel briljant bestuur. Dit is versinnebeeld toe hy Monument se vinnige verdedigingslyn betyds raakgesien het om verby ’n teenstander deur te breek vir ’n drie.
O’Ryan Kleyn (Grey College)
’n Binnesenter moet sy teenstanders met fisieke lopies op hul tone hou. Dít het Kleyn beslis gedoen. Sy skouspelagtige deurbreek en toe ’n gerekende aangee na spanmaat Phenom Lamla Mgedezi vir ’n drie, was ’n hoogtepunt van die wedstryd.
Jadrian Afrikaner (Westville)
Afrikaner se uitstekende spel in nat toestande was uiteindelik die grootste verskil tussen die spanne. Puik op die aanval en net so indrukwekkend op verdediging: Als wat ’n mens van ’n agterspeler kan verwag.
- Kry al die skolerugbynuus op NovaNews.
- Volg ook The Rugby Factory op jou gunsteling-stroomdiens om op hoogte te bly van SA skolerugby.
