Dit was ’n spanpoging soos min . . . maar dit kon eindelik net een man wees wat as speler van dié titaniese stryd kon wegstap.
Kyle Steyn, wat in Johannesburg gebore is, het stilletjies oor die laaste paar seisoene homself as een van die beste vleuels in Skotland én die wêreld gevestig. Veral noudat lugskoppe só groot rol in die spel begin speel het.
Steyn het twee van Skotland se sewe drieë gedruk en die spel het beslis weer in Frankryk se guns begin swaai toe hy in die 67ste minuut die veld verlaat het.
Nietemin het die Skotte 50-40 met die Hane klaargespeel om te verseker dat Frankryk nie die Sesnasies-toernooi onoorwonne kan wen nie.
’n Ander soort stryd het egter aanlyn begin woed ná die eindfluitjie geblaas het. ’n Video wat ’n duidelike oogkrap deur ’n Franse speler wys het soos ’n veldbrand aanlyn versprei.
Die Franse plaasvervanger Oscar Jegou druk sy hand in die Skotse haker Ewan Ashman se oog, ’n aksie wat die skeidsregters nie in die oomblik as strafbaar beskou het nie.
Maar die video vertel ’n ander storie, veral as ’n mens in ag neem hoe hard Bok-breker Eben Etzebeth vir ’n soortegelyke voorval teen Wallis verlede jaar gestraf is.
In November het die Springbok-slot ’n rooikaart ontvang en is later vir 12 weke geskors. Gaan Jegou dieselfde lot toegedien word?
Skotland het dus Kaptein Antoine Dupont die eer ontneem om die Sesnasies moontlik onoorwonne te wen, en sal nou self volgende week teen Ierland meeding om hopelik die toernooi in geheel te wen.
Lees KICK OFF Rugby se volledige wedstrydverslag oor dié wedstryd én Ierland se oorwinning Vrydagaand oor Wallis.
