Sojaboonstryd bars oop: Graan SA vat JSE se prysbesluit aan

Graan SA optog na JSE-geboue.
Graan SA optog na JSE-geboue. Foto: Verskaf deur Graan SA.

Suid-Afrikaanse graanprodusente het Donderdag hul stryd teen die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) se besluit oor sojaboonprysbepaling na die hart van die finansiële mark geneem.

Graan SA het tydens ’n vreedsame optog in Sandton ’n petisie met 965 handtekeninge en 511 ondersteunende kommentare, asook ’n memorandum, aan die JSE oorhandig. Die organisasie eis dat die beurs sy besluit om ’n stelsel met veelvuldige sojaboonverwysingspunte te verwerp, heroorweeg.

Die JSE het ná ’n twee-seisoen-loodsprojek besluit om terug te keer na ’n enkelverwysingspunt vir die berekening van sojaboonliggingsdifferensiale. Graan SA sê die besluit kan produsente in sekere streke aan hoër vervoerverwante aftrekkings blootstel en meen die geografiese verspreiding van vraag, aanbod en werklike graanvloei word nie voldoende weerspieël nie.

Die kern van die geskil is dus hoe die prys wat produsente vir hul sojabone ontvang, aangepas word volgens waar die graan gelewer word.

Graan SA sê die meervoudige verwysingspuntmodel is oor twee bemarkingseisoene getoets en volgens vyf voorafbepaalde kriteria beoordeel, waaronder handelsaktiwiteit, markdeelnemers, voorraadopbou, die herlewering van silo-ontvangsbewyse en terugvoer van belanghebbendes.

Graan SA optog na JSE-geboue.
Graan SA optog na JSE-geboue.
Foto: Verskaf deur Graan SA.

Die organisasie is egter bekommerd dat die finale besluit nie voldoende verduidelik hoe die model teen elk van dié kriteria gevaar het nie.

Richard Krige, voorsitter van Graan SA, sê die kwessie gaan nie bloot oor een verwysingspunt nie.

“Dit gaan daaroor of die stelsel die werklikhede van die fisiese mark weerspieël en of produsente vertroue kan hê dat besluite wat hul besighede raak, op deursigtige bewyse gegrond is,” sê hy.

Graan SA sê die JSE het erken dat handelsvolumes, oop posisies en fisiese lewerings tydens die loodsprojek verbeter het, maar aangevoer dat dié verbetering aan eksterne marktoestande toegeskryf kon word.

Volgens Graan SA behoort die beskikbare kwantitatiewe bewyse egter volledig beoordeel te word voordat die model verwerp word.

Die organisasie plaas ook die probleem van inligtingsasimmetrie in die kollig. Volgens Graan SA het produsente beperkte toegang tot inligting oor kontantmarkbasisse, terwyl belangrike markinligting by ’n kleiner groep rolspelers in die waardeketting gekonsentreer kan wees.

Graan SA.
Foto: Verskaf deur Graan SA.

Dit maak dit volgens die organisasie moeilik vir produsente om onafhanklik te bepaal of liggingsdifferensiale werklike marktoestande weerspieël.

Graan SA sê verder dat kwalitatiewe menings blykbaar te swaar geweeg is teenoor die model se kwantitatiewe prestasie.

“ ’n Metodologie behoort nie verwerp te word bloot omdat dit meer gesofistikeerd as die bestaande stelsel is nie,” sê die organisasie.

Die JSE het aangedui dat hy vanaf die bemarkingseisoen wat op 1 Maart 2027 begin, na ’n enkelverwysingspunt wil terugkeer en Randfontein met Driefontein wil vervang. Belanghebbendes het tot 14 Augustus om kommentaar op die voorstel te lewer.

Graan SA sê hy sal kommentaar indien en voortgaan met sy tegniese en regsprosesse.

Die organisasie het ook ’n dringende hof aansoek aangekondig wat daarop gemik is om die implementering van die besluit te keer terwyl die geskil verder betwis word.

“Ons doelwit bly baie duidelik: ’n geloofwaardige, deursigtige en doeltreffende prysontdekkingsmeganisme wat vir die mark as geheel werk,” sê dr. Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Graan SA.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos