Die konstitusionele hof het Maandagoggend in Solidariteit se guns beslis dat die gedeeltes wat voorsiening maak vir die sogenaamde ‘sertifikaat van behoefte’ ongrondwetlik is.
“Dít was ’n tweeledige aanval op die sentralisering van die staat van die gesondheidsektor. Hierdie uitspraak gaan oor artikel 36-40 van die Nasionale Gesondheidswet, wat in wese bepaal waar jy ’n gesondheidspraktisyn mag wees en hoe jy moet praktiseer,” verduidelik Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof: Solidariteit, aan Die Papier.
Volgens Van der Bijl is Solidariteit verheug oor die uitspraak, omdat dit “een been van die gesondheidsektor se sentralisering is” wat gekantel het.
“Ons het vandag hierdie uitspraak in ons guns gekry, maar dan is daar ook nog ons tweede geveg, wat ook in die konstitusionele hof en ander howe geveg word,” vertel Van der Bijl.
“Dit gaan oor die Nasionale Gesondheidsversekering-wet, en daarvoor wag ons nog vir ’n hofdatum om ons argumente te voer,” voeg hy by.
Volgens ’n verklaring van Solidariteit, is die behoeftesertifikaat waaroor die hof nou gelas het, een van die belangrikste meganismes waarmee die regering groter beheer oor die gesondheidsbedryf wou uitoefen.
“Een van die NGV se sentrale pilare het vandag tot ’n val gekom. Die behoeftesertifikaat was veel meer as bloot ’n administratiewe instrument. Dit was ’n instrument van sentralisering en staatsbeheer.
“Die regering wou gesondheidspraktisyns soos sy eie pionne op ’n skaakbord rondskuif om sy eie mislukkings te verbloem. Vandag het die hof gesê Suid-Afrikaners is nie staatsbesit nie en professionele mense is nie pionne van die regering nie,” sê Van der Bijl in die verklaring.
Solidariteit beklemtoon verder dat die uitspraak groter betekenis inhou vir die stryd teen die NGV en as sterk teenkanting dien teen die grondwetlikheid van staatsentralisering wat ʼn kernbeginsel van die NGV is.
Solidariteit sê hulle sal hul breër regstryd teen die NGV voortsit.
