Stormers XXIII-afrigter: ‘Ek glo ons het genoeg in die tenk’

Boland Kavaliers se Lunathi Nxele in aksie teen Stormers XXIII. Foto: KickOff
Boland Kavaliers se Lunathi Nxele in aksie teen Stormers XXIII. Foto: KickOff

Nadat die Stormers XXIII hul Curriebeker-veldtog verlede naweek met ‘n oorwinning in die laaste oomblikke teen die verdedigende kampioen, Griekwas, afgeskop het, is hulle Sondag hard aarde toe gebring.

Hulle het ‘n 41-3-nederlaag teen ‘n oppermagtige Boland Kavaliers-span gely in ‘n wedstryd waarin hulle in elke afdeling van die spel oorskadu is.

Afrigter Tom Dawson-Squibb weet sy span sal aansienlik moet verbeter indien hulle vanjaar ernstig om ‘n uitspeelplek wil meeding.

Die Kaapse span is tans sesde op die puntelys, met vyf rondes wat nog oorbly.

“Ons moet beter wees,” het Dawson-Squibb ná die wedstryd aan verslaggewers gesê.

“Die maklikste ding is om te sê ons moet ‘n ander span kies, maar jy werk met die spelers wat jy het, en ek glo ons het genoeg in die tenk.

“Ons moet beter wees. Ons moet een of twee dinge verander.”

Dawson-Squibb het ook geweier om die swaar nederlaag op sy spelers te blameer.

“Ek is natuurlik op die oomblik gefrustreerd, deels oor hoe ons gespeel het en dalk deels met myself.

“Wat kon ons anders gedoen het?

“Dit is vrae wat jy jouself altyd as afrigter afvra.

“Dit is maklik om die spelers te blameer, maar ek gaan dit nie doen nie.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie