’n Groep studente verbonde aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) se Wellington-kampus het Maandag vreedsaam buite die plaaslike landdroshof betoog, waar die borgtogaansoek van twee rugbyspelers wat op verkragtingsaanklagte teregstaan, voortgesit is.
Die twee rugbyspelers word daarvan beskuldig dat hulle op 26 April ’n 21-jarige student van dié kampus verkrag het. Volgens die staat het die voorval by die student se woning plaasgevind, waar sy glo om die beurt verkrag is. Die beskuldigdes staan vier aanklagte van verkragting in die gesig.
Die borgtogaansoek sloer reeds byna ’n maand en is verlede week weer uitgestel nadat die staat beswaar gemaak het teen ’n tweede prokureur wat vir die beskuldigdes op rekord geplaas is.
Die beskuldigdes is aanvanklik deur Elton Rochert, verbonde aan ’n Kaapse regsfirma, verteenwoordig. Rochert het op 15 Mei ’n kollega van ’n Paarlse firma by die saak gevoeg om hom by te staan.
Die staat betwis egter die wyse waarop die tweede prokureur aan die hof voorgestel is. Die geskilpunt sal nou deur die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad aangehoor word.
Die staat sal Maandag sy gronde vir die aansoek aan die hof voorlê.
- Volg Die Papier vir meer.
