Studente het geleenthede gemis, sê DA oor VS-beursverlag

Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat.
Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat. Foto: Argief.

Gesprekke neem toe ná die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) se ondersoek na die Vrystaatse studentebeursskema.

In ’n verklaring dui die SOE aan dat groot onreëlmatighede ter waarde van R8 miljoen aan die lig gekom het na die ondersoek van die 2017/18-beursverslag. Die ondersoek het onreëlmatighede rakende betalings vir reis, akkommodasie en toelae blootgelê wat nie volgens die beursbeleid uitbetaal is nie. Die SOE het beveel dat 38 dissiplinêre verwysings teen betrokke amptenare gemaak word.

Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, sê hierdie is dieselfde beursskema wat betalings aan verskeie internasionale universiteite gemaak het, waarvan een die privaat Bahcesehir-universiteit in Turkye was, van waar gewese premier Ace Magashule ’n eredoktorsgraad ontvang het.

In die 2014/15-finansiële jaar is R107 868 000 aan internasionale instellings betaal, in die 2015/16-finansiële jaar ’n bedrag van R117 870 228, in die 2016/17-finansiële jaar R147 202 996 en in die 2017/18-finansiële jaar R91 769 649.

Van die R464 710 873 wat oor drie jaar aan internasionale beurse bestee is, het Bahcesehir-universiteit ’n totaal van R69 278 755 ontvang. Alle studente wat van studies by hierdie internasionale instellings na Suid-Afrika teruggekeer het, waarvan sommige in die rigting van medisyne studeer het, kon nie akkreditasie vir hul internasionale grade plaaslik ontvang nie. Dit verteenwoordig ook vrugtelose en verkwistende besteding.

Jankielsohn sê talle van die studente het geleenthede misgeloop en hul verwagtinge is geknak weens hierdie omstrede beurse.

“Geld wat by internasionale universiteite bestee is, sowel as fondse wat verkeerd aangewend is, kon baie studente by plaaslike tersiêre instellings in die Vrystaat befonds het, wat hierdie geld in die provinsie sou laat sirkuleer. Elke sent van belastingbetalers se fondse moet onder die loep geneem word ten einde te verseker dat ons inwoners in die provinsie baat vind.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie