Susan Coetzer gesels oor ‘koeke en terte’ by Nampo

Susan Coetzer.
Susan Coetzer. Foto: Verskaf.

Wanneer die energieke aktrise en skrywer Susan Coetzer die verhoog tref, voel dit of jy binne-in een van haar gewilde agterblad-rubrieke vir rooi rose klim.

Met haar kenmerkende humor het Coetzer die gehoor in dié tydskrif se tent by Nampo laat skaterlag terwyl sy haar bekende “koeke en terte”-vergelykings gebruik om oor persoonlikhede, identiteit en selfaanvaarding te praat.

Die Nasionale Mielieprodusente-organisasie (Nampo), Suid-Afrika se grootste landbou-uitstalling, het op 12 Mei afgeskop en bied vermaak vir oud en jonk. Dis ’n fees vir dié wie se buiteleweharte vinniger klop as hulle ’n Massey Ferguson sien, maar ook vir dié wat wil kyk hoe SA se Glam Guru, Hannon Bothma, ’n kitsoormaaksessie behartig.

Die rooi rose-tent voel lewendig soos die gehoor eers giggel, dan lag en dan hul koppe knik soos hulle saam met Coetzer se wyshede stem.

“Koeke se hare beweeg nooit nie, dis soos Prestik teen die skedel,” skerts Coetzer terwyl sy deur die skare beweeg en die dames speels “klassifiseer”.

Coetzer het die gehoor laat skaterlag.
Coetzer het die gehoor laat skaterlag. Foto: Shanell Binedell.

Volgens haar is daar altyd “’n bietjie meer koek of tert” in elke vrou, maar uiteindelik is daar plek vir almal. Sy moedig mense aan om ander te aanvaar, selfs al verskil hulle van jou. “Daar is genoeg oorloë in die wêreld, en gewoonlik begin dit tussen ons,” sê sy.

Maar wat maak iemand nou eintlik ’n “koek” of ’n “tert”?

Coetzer verduidelik dit op haar eie unieke manier: Koekerige dames dra “Christelike navy blue”, plat skoene en hare wat so styf sit dat dit lyk of dit vasgeplak is.

Terterige dames, daarteenoor, glo hoe minder, hoe beter, lag sy. “Dit bring die Moeder Teresa in my uit,” sê sy en skerts dat sy sommer ’n kledingstuk of twee vir die persone wil skenk as sy hul uitrustings sien.

Coetzer beklemtoon egter dat alles ligsinnig bedoel word. Dít kan die gehoor in haar komiese stemtoon optel. “As jy nie vir jouself kan lag nie, moet jy nie vir ander lag nie.”

Coetzer in karakter.
Coetzer in karakter. Foto: Shanell Binedell.

Sy vertel ook hoe sy sogenaamde “undercover terte” vinnig kan uitken. “Ek kyk net na die naels,” grap sy.

Benewens die humor raak Coetzer ook ernstiger temas aan, soos identiteit en die druk om almal te probeer gelukkig hou.

Sy gebruik verskillende gebak-soorte as metafore vir mense se persoonlikhede. “Sponskoeke neem alles in, maar verloor maklik hul identiteit. Rotskoekies dink hulle is hier om almal te kritiseer, en vetkoeke (wat ook maer kan wees) is gewoonlik die harde werkers agter die skerms,” verduidelik sy.
Coetzer erken dat sy self dikwels soos ’n “vetkoek” optree omdat sy altyd ander wil help. “Ek moes leer om nie altyd ’n vetkoek te wees nie en eerder ook in myself te belê.”

Volgens haar ontmoet sy gereeld mense wat eerder enigiets anders sal doen as om “nee” te sê.

Coetzer het ook oor Lisa de Waal, haar bekende rooi rose-persona, gesels. Lisa bevind haar dikwels in komiese situasies, onder meer met ’n skoonma wat sukkel om haar seun te laat gaan.

Die kern van haar boodskap bly egter eenvoudig: Daar is plek vir ons almal. “Ons is baie meer as net ’n koek of ’n tert.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie