The Rugby Factory se Andy Daniel: Die ongemaklike einde van die Greatest Rivalry

Die All Blacks en Springbokke sal hul laaste wedstryd van die Greatest Rivalry-reeks in Baltimore speel.
Die All Blacks en Springbokke sal hul laaste wedstryd van die Greatest Rivalry-reeks in Baltimore speel. Foto: Facebook/All Blacks.

Die Springbokke en All Blacks se Greatest Rivalry het onlangs na Baltimore oorbeweeg, maar die besluit om die eindstryd van die reeks weg van Suid-Afrika te skuif wek kommer, skryf Andy Daniel van Rugby Factory.


Drie wonderlike toetswedstryde, stampvol stadions, omstrede lugvertonings, oorlogstaal en die verskuiwing van die grense van keuringsbeleide. Hierdie Suid-Afrika-teen-Nieu-Seeland-toer het alles gehad.

Nou sit ons egter met die mosterd-ná-die-maal-wedstryd en die gedagte dat al die donderstorms van die drie toetse gaan net ’n ligte briesie in Baltimore, waar ’n wedstryd wat net as ’n geldmaakprojek vir Wêreldrugby beskryf kan word, gaan waai.

As ’n gewone rugbyondersteuner voel dit eenvoudig verskriklik. Dit is moontlik selfs op dieselfde vlak as die derde- en vierdeplek-uitspeelwedstryd by die Rugbywêreldbeker.

Die rede waarom hierdie wedstryd moontlik erger voel as om die ewige strooimeisie by ’n Wêreldbeker te wees, is dat die wedstryd in Baltimore gespeel word vir geld en om die hoop te laat herleef dat die Rugbywêreldbeker vir mans van 2031 en die Vrouerugbywêreldbeker van 2033, wat albei in die VSA aangebied sal word, ’n sukses sal wees.

Laat ek duidelik wees oor een ding: Ek het geen probleem daarmee dat wedstryde regoor die wêreld gespeel word waar geen van die twee spanne die gasheerland verteenwoordig nie. Saru het byvoorbeeld slim die Suid-Afrikaanse ondersteunersmark rondom Twickenham benut en ’n gesonde verhouding met Allianz-stadion opgebou om kommersiële geleenthede te skep.

My probleem is dat dit ’n beslissende toetswedstryd in ’n reeks tussen die twee beste spanne ter wêreld is, en een wat die hele rugbygemeenskap wêreldwyd aangegryp het. Suid-Afrika het van agter gekom in ’n reeks van drie wedstryde om ’n voorsprong van 2-1 te neem, en hulle het die reg om daardie voorsprong voor hul tuisskare te verdedig.

Baltimore en M&T Bank-stadion sal die groot gelykmaker wees. Geen Impi-krygers nie, geen vyandige ondersteuners in groen-en-goud nie, en geen gevoel van ’n ongelooflik diverse skare wat as een saamstaan nie. In plaas daarvan is daar net die hoop dat dit iets in die Amerikaanse publiek sal aanwakker om ’n sport te ondersteun wat hulle nie regtig verstaan nie.

Die MLR (Major League Rugby) is die plaaslike professionele liga in die VSA en dit verkeer tans in ernstige moeilikheid. Van 12 spanne af is dit vir die 2026-seisoen tot ses verminder, en nou selfs tot vyf nadat Anthem RC einde Julie ontbind is. Mense sal aanvoer dat Suid-Afrika en Nieu-Seeland onderskeidelik net vier en vyf franchises in internasionale kompetisies het, maar die werklikheid is dat Amerika dan net een professionele rugbyfranchise vir elke tien deelstate oorhou. Die liga is nie ekonomies volhoubaar nie, en ek sou sterk twyfel of dit teen die tyd van die Rugbywêreldbeker vir mans in 2031 nog bestaan.

Daar word berig dat sowel Saru as Nieu-Seeland se rugbyunie meer as dubbel die inkomste uit hierdie enkele wedstryd sal verdien as uit enige van die ander drie toetse. Dit sluit ’n fooi van Wêreldrugby in, wat probeer om die voorste rugbynasies aan te moedig om toetse in Amerika te speel in die aanloop tot 2031.

Rian Oberholzer het voorheen gesê dat finansiële oorwegings een van die belangrikste dryfvere was.

“By SA Rugby is dit noodsaaklik dat ons aanhou werk aan ons finansiële stabiliteit. Om dit te doen, moet ons ons handelsmerk verder as Suid-Afrika neem. Ons weet watter ondersteuning ons in Londen het, maar die VSA is ’n belangrike mark waarin ons wil groei soos ons opbou na 2031.”

As jy jou sakehoed opsit, moet jy erken dit is ’n aanbod wat moeilik geweier kan word. Met geen Rugbykampioenskap vanjaar nie en die beperkte vermoë om voordeel te trek uit die aantal tuiswedstryde wat jy normaalweg sou aanbied weens die Wêreldbekerjaar van 2027, maak dit natuurlik sin.

Daardie inkomste sou egter nie bestaan het sonder die 80 spelers en personeellede wat vroeg Sondagoggend uit Johannesburg per gehuurde vlug vertrek het om pionne in Wêreldrugby se spel te word nie. M&T Bank-stadion is een van 27 plekke wat oorweeg word as gasheerstadion vir 2031, en gelukkig het dit wel ’n grasveld. As dit ’n sintetiese oppervlak was, sou ek waarskynlik nuwe tafels en stoele vir my huis gekoop het terwyl die noodglaswerker my vensters herstel. Om eerlik te wees, sou dit my nie verbaas het as hulle dit gedoen het nie.

Hierdie spelers en personeel verdien dat hierdie toer op die regte manier eindig. ’n Stadion wat dreun terwyl spelers die veld betree in Pretoria, Nelspruit, Bloemfontein of enige ander groot stadion in Suid-Afrika is hoe hierdie reeks sy hoogtepunt moes bereik het.

Die Springbok-span wat in die laaste Greatest Rivalry-toets speel.
Die Springbok-span wat in die laaste Greatest Rivalry-toets speel. Foto: Facebook/Springboks.

Ek kan ook nie een moontlike prentjie uit my kop kry nie: Siya Kolisi en Codie Taylor wat moontlik ’n pragtige trofee in twee stukke verdeel voor ’n ongeërgde gehoor in ’n stadion wat reeds besig is om leeg te loop.

Die spel moet beslis wêreldwyd groei en nuwe markte moet ontsluit word, maar my oorheersende siening is dat jy nooit die mense moet vergeet wat jou in die eerste plek daar gekry het nie. In 2018 kon Saru nie ’n stadion vol kry toe Engeland vir ’n toetsreeks kom toer het nie, en nou loop hulle die gevaar om dieselfde mense te vervreem wat agter Rassie Erasmus geskaar het toe die span na top van die ranglys geklim het.

Ondersteuners is keer op keer uit die mark geprys en, met die geleentheid vir die Springbokke om nóg ’n belangrike trofee vir hul ondersteuners in te palm, sal hulle dit ongelukkig nie voor die Suid-Afrikaanse getroues kan doen nie. Ek twyfel geensins daaraan dat die spelers en personeel soortgelyke gedagtes sal hê indien Kolisi die twee stukke van die trofee in die vroeë oggendure van Sondag omhoog hou.

Onthou altyd: Jy sien dieselfde mense op pad boontoe as wat jy op pad ondertoe sien.

Ek hoop werklik ons kry dieselfde intensiteit in hierdie toets as in die vorige drie, maar met afskoptye wat ook nie ideaal is vir kroeggangers of jong Suid-Afrikaanse ondersteuners wat hul helde wil sien speel nie, vrees ek dat die Greatest Rivalry dalk met ’n virtuele asterisk langs toets nommer vier gaan eindig.

  • Andy Daniel is deel van The Rugby Factory en aanbieder van KickOff se Tap ’N Go-nawedstrydprogram, wat die Springbok-teen-All Blacks-toetse van die Greatest Rivalry ná die eindfluittjie bespreek.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos