Pres. Donald Trump het Sondag bevestig dat ’n tweede Amerikaanse vlieënier wat binne Iran neergeskiet is, is ná ’n soek- en reddingsoperasie veilig en ongedeerd.
“ONS HET HOM! My mede-Amerikaners, oor die afgelope paar uur het die Verenigde State se weermag een van die mees gewaagde soek- en reddingsoperasies in die Amerikaanse geskiedenis uitgevoer vir een van ons ongelooflike bemanningslede, wat ook ’n hoog aangeskrewe kolonel is. Ek is verheug om te kan sê hy is nou VEILIG EN ONGDEERD!” het Trump op sy Truth Social-platform geskryf.
Volgens Trump het hy die Amerikaanse weermag beveel om “tientalle vliegtuie, gewapen met die dodelikste wapens in die wêreld, te stuur om die vlieënier te gaan haal”.
“Hy het beserings opgedoen, maar hy sal heeltemal herstel,” het Trump geskryf.
Amerikaanse media het Vrydag berig dat spesiale magte een van twee bemanningslede van ’n neergestorte F-15 gered het – die eerste Amerikaanse vegvliegtuig wat binne Iran neergekom het sedert die begin van die oorlog.
Foto’s van die neergestorte vegvliegtuig is deur die regering in Iran op sosiale media gedeel.
Daar was in ’n stadium gerugte dat die Iranse regering glo ’n beloning uitgeloof het vir die aankeer van die bemanningslede.
Trump het ook die “suksesvolle redding van nog ’n dapper vlieënier, gister,” bevestig en bygevoeg dit is nie vroeër bekend gemaak nie om die tweede reddingsending nie in gevaar te stel nie.
“Dit is die eerste keer in militêre geskiedenis dat twee Amerikaanse vlieëniers afsonderlik, diep in vyandelike gebied, gered is,” het hy geskryf.
– AFP
