Die polisie in Worcester het ’n moordsaak aanhangig gemaak nadat ’n 23-jarige man Saterdagaand, 1 Augustus, in Avianpark, Worcester doodgesteek is. Die voorval het omstreeks 20:35 in Rollerstraat plaasgevind.
Sers. Wesley Twigg, ’n polisiewoordvoerder, sê toe die polisie op die toneel aankom, het hulle die slagoffer met ’n steekwond in die bors aangetref. Hy sê mediese personeel het die man op die toneel dood verklaar.
Twigg sê volgens berigte het die slagoffer en sy aanvaller kort voor die voorval gestry.
Die polisie kan bevestig dat ’n 18-jarige man in verband met die voorval in hegtenis geneem is. Hy sal eersdaags in die Worcester-landdroshof verskyn sodra hy aangekla is.
In nog ’n voorval Vrydagaand, 31 Julie, ondersoek die polisie ’n moord toe ’n 34-jarige man in ’n skietvoorval in Nyibibastraat, Zwelethemba, noodlottig gewond is.
Twigg sê die polisie het op 31 Julie op ’n klagte van ’n skietvoorval in Zwelethemba gereageer. Met hul aankoms op die toneel het hulle op ’n man afgekom met ’n skietwond. Hy sê die man se aanvaller het ná die voorval vanaf die toneel gevlug.
Volgens Twigg het mediese personeel die slagoffer op die toneel dood verklaar. Hy sê die motief vir die voorval is in hierdie stadium nog onbekend.
Die polisie versoek enigeen met inligting om die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 te bel of om anoniem gebruik te maak van die polisie se mobiele toepassing MySAPS.
