Umuzi Kunstefees is sinoniem met heerlike lente én kunste in Secunda

Frank Opperman en Margit Rödenbeck-Meyer is te sien in ‘Eerste vir Alles’.
Frank Opperman en Margit Rödenbeck-Meyer is te sien in ‘Eerste vir Alles’. Foto: Verskaf.

Secunda is onlangs aangewys as Mpumalanga se wenner in die Kwêla Dorp van die Jaar-wedstryd. En vir ’n beter manier as die twee weke van die Umuzi Kunstefees om dít te vier, kon mens sekerlik nie voor gevra het nie.

Van 18 September tot 3 Oktober word liefhebbers van die kunste – hetsy of dit van teater, boeke, musiek of visuele kunste is – uitgenooi om hulself te verdiep in ’n fees waar heerlike kuns die voorgrond geniet.

“Ons het geluister na wat ons feesgangers wil sien en beleef. Vanjaar bied die program heelwat meer ligte vermaak – iets wat nodig is in ’n tyd waarin mense dikwels oorweldig voel deur wêreldgebeure en persoonlike uitdagings,” sê Alma Swart, Umuzi Kunstefees-organiseerder.

Die verrigtinge skop af op Vrydag, 18 September, met ’n spesiale huldeblyk aan die legendariese Koos du Plessis.

Die Papier se gesoute joernalis Ilse Salzwedel sal ook met minister Pieter Groenewald in gesprek wees oor sy leierskap en visie vir die toekoms van die land. Moet dit nie mis nie!

Die Umuzi Kunstefees vind van 18 September tot 3 Oktober in Secunda plaas.
Die Umuzi Kunstefees vind van 18 September tot 3 Oktober in Secunda plaas. Foto: Verskaf.

As deel van die “ligter vermaak” tel onder meer produksies soos O-Meno-O-Pouse met Arina de Witt, Die “Real Housewife” met Lizz Meiring, die komediant Mark Banks, Eerste vir Alles met Frank Opperman en Margit Rödenbeck-Meyer, asook Tronk met ’n “D”, met onder andere die bekende Elsabé Zietsman.

Musiek-entoesiaste en jonger teatergangers word beslis nie afgeskeep nie. Veral die laasgenoemde kan uitsien om Levinia Heks, oftewel Liewe Heksie, te ontmoet.

“Op Erfenisdag, 24 September, word feesgangers genooi om in ’n tydsmasjien te klim en na die Middeleeue terug te reis,” lui die persverklaring. “Die tema vir die dag is Medieval, en besoekers word aangemoedig om hul Robin Hood- of Lady Marion-kostuums aan te trek en die feestelikhede te geniet.””

  • Kaartjies vir alle Umuzi Kunstefees-vertonings is beskikbaar by www.seatme.co.za.

Vir verdere navrae kontak vir Alma Swart by 083 657 5411 of hou Lake Umuzi en Umuzi Kunstefees se sosialemedia-blaaie dop of kry alle inligting op www.lakeumuzi.co.za.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos