Hier is die hoofnuus wat vandag, 1 September, gebeur het. Dié artikel bevat die belangrikste nuus wat plaaslik, in die sportwêreld en oorsee plaasgevind het.
Plaaslik
- Rassie Erasmus het bevestig dat vier name op die Bokke se krukkelys – Handré Pollard, Damian Willemse, Canan Moodie en Grant Williams – wel na Amerika sal reis en heelmoontlik beskikbaar sal wees vir die 4de Bok-toets in die Greatest Rivalry-reeks in Baltimore.
- Die Madlanga-kommissie beveel dat Feroz Khan, adjunkhoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, se mediese toestand bekend gemaak moet word, ná hy weer nie opgedaag het om voor die kommissie te getuig nie en mediese redes aangevoer het.
- Parlementslede van die Artikel 89-staatsaanklagkomitee het adv. Thandazani Madonsela se benoeming as getuienisaanvoerder teruggetrek en sal nou nuwe nominasies moet voorlê.
- Die Parlement se regseenheid het gesê pres. Cyril Ramaphosa se besware teen adv. Thandazani Madonsela se aanbeveling as getuienisaanvoerder van die art. 89-aanklagkomitee slaag nie daarin om ’n botsing van belange te bewys nie.
- Die Parlement se Artikel 89-staatsaanklagkomitee vergader na verwagting vandag om belangrike kwessies te bespreek, insluitend die oorweging van regsadvies oor pres. Cyril Ramaphosa se beswaar teen die aanbeveling dat adv. Thandazani Madonsela as getuienisaanvoerder vir die proses aangestel word.
- Safa het Pitso Mosimane amptelik as die nuwe hoofafrigter van Bafana Bafana aangestel.
- Die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie sê dit sal nuwe bronne van inkomste moet ondersoek nadat sy raad die voorgestelde Finansiële Herstelplan vir 2027 teruggetrek het, met die plan wat Saterdag tydens ’n raadsvergadering onvoorwaardelik teruggetrek is ná weke van studente-onrus.
- Die vonnisoplegging van die veroordeelde reeksmoordenaar Nomia Rosemary Ndlovu en haar mede-beskuldigde, die voormalige polisiebeampte Nomsa Mudau, is vanoggend in die streekhof in Kempton Park tot 15 September uitgestel.
- Sakeman Brown Mogotsi verskyn vandag vir die 4de keer in die Johannesburgse landdroshof in ’n poging om borgtog te bekom nadat hy sedert sy inhegtenisneming in Mei in aanhouding is oor bewerings dat hy die baasbrein agter ’n sluipmoordaanval in Vosloorus was.

- Taxibaas Joe ‘Ferrari’ Sibanyoni en sy 3 medebeskuldigdes, Bafana Sindane, Mvimbi Masilela en Philemon Msiza, verskyn na verwagting weer vandag in die hof nadat hul saak weer op die hofrol geplaas is, waar hulle teregstaan op aanklagte wat verband hou met ’n beweerde afpersings- en beskermingsgeldsindikaat.
- Pres. Cyril Ramaphosa het Leonard Lekgetho met ingang van 1 September as permanente hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid aangestel nadat hy sedert Februarie in die waarnemende pos gedien het ná Andy Mothibi se vertrek om die pos van nasionale direkteur van openbare vervolgings te aanvaar.
Oorsee
- Verskeie geïmproviseerde ploftoestelle is by ’n substasie naby ’n steenkoolkragsentrale in Duitsland gevind, en verskeie kraglyne is beskadig, het die polisie en ’n netwerkoperateur gesê.
- Zambië se president, Hakainde Hichilema, is vandag vir ’n 2de termyn ingehuldig, terwyl die hoofopposisieleier, wat in verlede maand se verkiesing tweede geëindig het, op aanklagte van hoogverraad in die tronk sit.
- Die Siriese minister van buitelandse sake, Asaad al-Shaibani, sê sy land werk, met bemiddeling deur die VSA, aan ’n ‘diplomatieke oplossing’ met Israel ondanks voortgesette Israeliese aanvalle.
- Engelse sokkerheld David Beckham sê Lionel Messi se ‘nalatenskap sal vir altyd voortleef’ nadat die Argentynse legende sy uittrede uit internasionale sokker aangekondig het.

- Iran se president, Masoud Pezeshkian, sê druk en dreigemente deur die VSA ontspoor diplomatieke pogings.
- Iran se president, Masoud Pezeshkian, het gesê dat Teheran ‘onmiddellik’ die VSA se aksies sal ewenaar indien dié land sal terugkeer na ’n ooreenkoms wat in Junie gesluit is en daarop gemik is om hul oorlog te beëindig.
- ’n Meksikaanse senator, Enrique Inzunza, wat saam met 9 ander mede-beskuldigdes deur die VSA gesoek word op aanklagte van dwelmhandel, sê hy sal ‘nooit’ ’n staatsgetuie of beskermde getuie vir die Amerikaners word in dié ongekende saak nie.
- Minstens 8 mense is oornag in ’n ‘massiewe’ Russiese aanval op Kiëf dood, onder wie 7 by ’n spoorwegdepot was, terwyl Moskou sy lugaanvalle op die Oekraïense hoofstad en omliggende gebiede verskerp het.
- Minstens 987 mense is dood in verwoestende vloede aan die grens tussen China en Nepal, het Nepal se rampowerheid gesê, wat die totale dodetal tot meer as 1 000 verhoog het.
- Duane ‘Keffe D’ Davis, ’n voormalige bendeleier van Los Angeles, is deur ’n hof in Las Vegas skuldig bevind aan die moord op die uitersgewilde rapper Tupac Shakur in 1996.
