Twee verdagtes, waaronder die voormalige eggenoot van een van die slagoffers, is in Luxemburg in hegtenis geneem in verband met die moord op drie Franse burgers in Suid-Afrika.
Die liggame van drie volwassenes, wat verskeie houe met ’n stomp voorwerp toegedien is, is op 11 Julie op twee afsonderlike plekke naby Pretoria gevind, het Gauthier Poupeau, die staatsaanklaer in Coutances in noordwes-Frankryk, gesê.
Die slagoffers was ’n egpaar van naby Mont Saint-Michel in Normandië en die vrou se ma. Hulle het die vorige dag saam met die vrou se minderjarige dogter in Suid-Afrika aangekom.
Suid-Afrikaanse owerhede het ’n 44-jarige man, wat as die meisie se pa en die voormalige eggenoot van een van die slagoffers geïdentifiseer is, in hegtenis geneem. Hy het kort voor die ander in Suid-Afrika aangekom.
Hy het egter die dag nadat die liggame ontdek is saam met die meisie en ’n ander familielid na Europa teruggekeer.
Die Franse polisie het die twee verdagtes in Luxemburg opgespoor. Die meisie se pa en sy beweerde medepligtige (71) is op 22 Julie deur die Luxemburgse polisie ingevolge ’n Europese lasbrief in hegtenis geneem.
Die meisie is in beskermende sorg geplaas en dieselfde dag na Frankryk terug.
Die twee verdagtes is tans in aanhouding in Luxemburg en sal na verwagting binnekort aan die Franse owerhede uitgelewer word. Hulle sal teregstaan op aanklagte van moord, ontvoering, die onwettige aanhouding van ’n minderjarige en sameswering om misdaad te pleeg.
Ander persone wat na bewering na aan die hoofverdagte is, is ook in Frankryk in hegtenis geneem en aangekla van sameswering om misdaad te pleeg en die ontvoering van ’n minderjarige as deel van ’n georganiseerde misdaadgroep.
