Vinnige vyf met maalvleis

Vinnige vyf

Het jy geweet met net vyf bestanddele, kan jy iets heerliks aanmekaarslaan? En as jy dalk een of twee ekstra bestanddele byvoeg, kan jy sommer maklik ’n hele paar geregte skep. Vandag se basisresep bestaan uit die volgende vyf bestanddele:

Beesmaalvleis, aartappels, uie, beesvleisaftreksel, cheddarkaas

Met dié bestanddele kan jy die volgende maak:

Vinnige maalvleis-en-aartappelgebak

Bestanddele (genoeg vir 4)

  • 500 g beesmaalvleis
  • 1 groot ui, gekap
  • 4-5 groot aartappels, gewas in en blokkies gesny
  • 500 ml beesvleisaftreksel
  • ’n Groot handvol gerasperde cheddarkaas

Metode:

  1. Plaas ’n groot braaipan oor matige hitte en verhit ’n bietjie olyfolie. Braai die uie tot sag en voeg dan die maalvleis by. Braai tot bruin en gaar.
  2. Voeg die aartappels en beesvleisaftreksel by. Indien nodig, voeg water by sodat die aartappels net-net bedek is. Sit ’n deksel op, verlaag die hitte en prut to die aartappels gaar is en die aftreksel en water geabsorbeer is (sowat 20-30 minute).
  3. Sprinkel ’n handvol cheddarkaas bo-oor en plaas vir ’n minuut of twee onder jou oondrooster om te smelt. Sit dadelik voor.

Indien jy ons kode in die koerant skandeer het, is hier jou drie variasies op dié resep met dieselfde bestanddele:

Eenvoudige herderspastei

Voeg by: botter en ’n skeut melk

  1. Kook die aartappels, en druk fyn (voeg botter en melk by om romerige kapokaartappels te maak).
  2. Braai die uie en maalvleis, voeg beesvleisaftreksel by en prut tot ’n lekker dik sous vorm.
  3. Skep die maalvleis onder in ’n bak, sit die kapokaartappels bo-op en sprinkel die kaas oor. Bak vir ongeveer 20 minute by 180 °C.

Gevulde, gebakte aartappels

Voeg by: suurroom of ongegeurde jogurt

  1. Bak die heel aartappels tot sag in die oond (jy kan dit ook in die mikrogolf doen).
  2. Braai intussen die maalvleis en uie met ’n klein hoeveelheid aftreksel tot gaar en geurig. Sny die aartappels oop, skep van die binnekant versigtig uit en meng dit met die maalvleis.
  3. Vul weer die aartappels, strooi cheddar bo-oor en rooster in die oond tot die kaas smelt en borrel. Sit voor saam met ’n skeppie suurroom of jogurt.

Maalvleis en kaas-aartappelkoekies

Voeg by: 1 eier en ’n bietjie meel

Laat weg: beesvleisaftreksel

  1. Kook en die aartappels en druk fyn. Geur met ’n bietjie sout.
  2. Braai die maalvleis en uie en meng dit met die fyn aartappels en gerasperde cheddar. Klits die eier en roer dit ook by. As die mengsel baie nat lyk, voeg ’n bietjie meel by sodat dit meer hanteerbaar is.
  3. Vorm plat koekies uit die mengsel. Verhit ’n bietjie olie in ’n groot pan en braai die koekies ’n paar minute per kant tot goudbruin en bros.

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos