Die jong losskakel Vusi Moyo het Saterdag sy droom verwesenlik toe hy die Springbokke se nommer 10-trui in die Nasieskampioenskap-wedstryd teen Wallis in Durban aangetrek het.
Afrigter Rassie Erasmus het nie gehuiwer om die talentvolle speler in die diepkant in te gooi nie, en Moyo het sy keuse geregverdig met ’n kalm, afgeronde vertoning, insluitend ’n briljante dwarsskop wat tot ’n Springbok-drie gelei het.
Moyo het ná die wedstryd gesê sy toetsdebuut is ’n spesiale oomblik wat hy nooit sal vergeet nie.
“Soos ek vroeër die week gesê het, is dit ’n droom wat waar geword het,” het Moyo ná die wedstryd gesê.
“Almal wil ’n Springbok word en toetsrugby speel.
“Ek is ongelooflik dankbaar en geseënd om dit saam met hierdie ouens te kon doen. Ek is baie lief vir hulle. Hulle was nog altyd my rolmodelle. Dit is ’n baie spesiale gevoel.”
Moyo het ook hulde gebring aan sy mede-debutante Carlü Sadie, Ruben van Heerden en Jaco Williams.
“Ek het probeer om dit vandag nie oor myself te maak nie. Carlü het goed gespeel, Ruben het goed gespeel en Jaco was ongelooflik. Dit gaan oor almal van hulle en hul bydrae tot die Springbokgroep.”

Erasmus het ná die wedstryd ’n eerlike beoordeling van Moyo se vertoning gegee en gesê die jong speler het wel senuwees getoon, maar ook merkwaardige kalmte by Kingspark gewys.
“Hy het beslis goed gespeel,” het Erasmus gesê.
“Jy kon sien daar was senuwees. Hy is ’n baie akkurate skopper. Hy skop goed af, maar dan kom jy in ’n toetswedstryd soos hierdie, met baie mense op die paviljoen en ’n nat bal, en skielik skop jy nie meer in die hoeke in nie en jou afskoppe is nie meer op die regte plek nie.
“Ek dink hy het dit ongelooflik goed hanteer.”
