Die sukses van die weermag se ontplooiing na bendegeteisterde gebiede op die Kaapse Vlakte gaan samewerking met gemeenskappe verg, wat moet aandui waar onwettige vuurwapens en dwelms versteek word.
Só het Dereleen James, ActionSA-LP, Dinsdag tydens ’n gesamentlike optrede in Kaapstad gesê, waar die weermag, polisie en Kaapse wetstoepassingsbeamptes as deel van Operasie Prosper ontplooi is.
President Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede in Februarie aangekondig dat die weermag tot en met Maart 2027 na bendegeteisterde gebiede in die Kaap ontplooi sal word, asook na gebiede in Gauteng waar onwettige mynbedrywighede voorkom.

“Julle werk is om ons kinders daar uit die ‘pella-posse’ (bende- of smokkelhuise) te gaan haal waar hulle vir te lank deur bendes aangehou word.
“Julle gaan elke slagoffer van geslagsgeweld verteenwoordig. Julle gaan seker maak dat daar nie ’n kind op die Kaapse Vlakte in ’n hondehok slaap nie,” het James tydens die optrede gesê.
“Gemeenskappe – dit is nie nou die tyd om video’s te maak as julle hierdie mense sien nie. Julle moet saam met hulle werk. Julle moet nou eintlik die grootste ‘piempies’ wees.
“Ons soek daardie adresse. Sonder julle ondersteuning en samewerking gaan niks hier werk nie. Stuur al julle inligting aan die polisie. Ek sal persoonlik dinge monitor,” het sy bygevoeg.

Chris Jones, adjunkhoof van die Kaapstad-metropolisie, stem saam met James dat samewerking van die gemeenskap noodsaaklik is.
“Die gemeenskappe weet wie die oortreders is. Ons verwag dat hulle hierdie mense sal identifiseer en daardie inligting met ons deel. Hierdie operasie gaan nie suksesvol wees sonder die gemeenskap se hulp nie.”
Jones sê deeglike beplanning is gedoen om spesifieke brandpunte te teiken.
“Ons hele uitgangspunt is om hierdie areas te beveilig en skoon te maak van kriminele elemente sodat gemeenskappe vrylik kan rondbeweeg. Ons werk gaan nie ná die operasies eindig nie. Ons sal voortgaan om saam met die polisie en weermag ’n teenwoordigheid in hierdie gebiede te handhaaf.”
Die ontplooiing van die weermag volg te midde van ’n hernieude toename in bendegeweld, skietvoorvalle en dwelmverwante misdaad op die Kaapse Vlakte.
Die Papier verstaan dat operasies in gebiede soos Mitchells Plain, Philippi, Steenberg, Kraaifontein, Mfuleni, Bishop Lavis, Delft, Elsiesrivier, Manenberg, Ravensmead, Gugulethu, Nyanga, Philippi-Oos, Samora Machel, Khayelitsha, Harare en Muizenberg uitgevoer sal word.
