Waarskuwing: Hierdie artikel bevat inligting wat sensitiewe lesers kan ontstel.
’n 23-jarige talentvolle rugbyspeler verbonde aan ’n plaaslike klub in Wellington het Dinsdag tydens sy borgtogaansoek gesê hy en die 21-jarige damestudent wat hom van verkragting aankla, het verlede jaar vir die eerste keer by haar studentewoning seksueel verkeer.
Die speler en sy 28-jarige vriend, wat ook vir ’n plaaslike klub in Abbotsdale uitdraf, staan saam tereg op vier aanklagte van verkragting.
Die beweerde voorval het glo by studenteverblyf van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) se Wellington-kampus in die oggendure van Sondag, 26 April, plaasgevind.
Die twee jong mans is die Maandag in hegtenis geneem.
LEES OOK | ‘Belowende’ Wellington-rugbyspeler en klubmaat toegesluit ná seksklag
Elton Rochert van Rochert Attorneys, wat die twee spelers in die saak verteenwoordig, het Dinsdag beëdigde verklarings as deel van die spelers se borgtogaansoek in die Wellington-landdroshof voorgelees.
Daarin erken die 23-jarige speler, wat die hoofverdagte is, dat hy op 26 April met die student by haar woonstel seks gehad het.
“Ek ken die klaagster, want ons het in die middel van 2025 vir die eerste keer seksueel verkeer. Ons was daarna nooit romanties saam nie,” lui die hoofverdagte se verklaring.
Hy sê hy het die klaagster die aand van die beweerde voorval by ’n nagklub raakgeloop. Daar het sy glo gevra of hy haar huis toe kan neem.
Volgens die 23-jarige speler het die klaagster saam met hom en sy medebeskuldigde in een voertuig na haar studenteverblyf gery.
Daar het hulle glo oornag.
Hy het aan die hof vertel dat die ligte afgeskakel was. Sy was glo bo-op hom.
Volgens hom het sy medebeskuldigde op ’n bed in dieselfde vertrek geslaap. Daar is glo ’n muur wat die twee beddens skei.
“Die hele aksie het tussen vyf en sewe minute geduur. Sy was bo-op my, so ek verstaan dus nie hoe daar gesê kan word dat ek haar verkrag het nie.”
Die speler vertel dat die klaagster glo ’n oproep ontvang het, waarna sy versoek het dat hy en sy vriend haar woonstel verlaat.
Sy het glo saam met hulle gestap tot by die voorportaal. Rochert het aan die hof gesê die verblyf se kringtelevisie-beeldmateriaal wys hoe die klaagster die hoofverdagte soengroet.
Die verdediging hou vol dat dit ’n konsensuele interaksie was en dat albei beskuldigdes onskuldig sal pleit.
Rochert sê weens die twee se persoonlike omstandighede en die feit dat hulle geen vorige veroordelings het nie, is daar geen rede om hulle langer agter tralies te hou nie.
Die borgtogaansoek sal Vrydag hervat wanneer die staat sy saak sal stel.
Die Papier het Maandag berig dat die staat borgtog gaan teenstaan. Die saak word as ’n bylae-ses-oortreding geklassifiseer.
Die koerant het ook vroeër berig dat die belowende speler ’n kontrak by ’n semi-professionele rugbyklub in Limpopo losgelaan het, waar hy Maandag moes begin.
Hy het in sy verklaring aan die hof gesê hoe hierdie saak ook daardie rugbydrome van hom nou kelder.
Die beskuldigdes se name word ingevolge die Strafproseswet weerhou weens die aard van die beskuldiging en sal eers bekend gemaak word sodra hulle pleit.
