Met ’n tyd van 2:33:06 het Suid-Afrikaner Ryan Gibbons (31) vanjaar se Kaapstadfietstoer net-net die vinnigste voltooi.
Jaedon Terlouw en Ryno Schutte het met hul tweede en derde plek onderskeidelik, die podium volgestaan.
“Die Kaapstad-fietstoer is die naaste aan ’n Europese wedren wat ons in Suid-Afrika kry,” het Schutte verduidelik. “Die groep is so groot, en posisionering is regtig moeilik. Jy moet heeltyd veg om in die voorste 10% te bly, anders is daar die risiko om deur ongelukkige vasgevang te word.”


In die korter vrouewedren het Suid-Afrikaner Lisa Bone (27) die vinnigste, met ’n tyd van 2:08:26 vir die 79km, oor die wenstreep gesnel.
“In die finale het ek geweet ek het die voordeel, maar die ander ouens het dit ook geweet, so ek moes vroeg aanval,” het Ryan Gibbons, wat die afgelope dekade in Europa fietsry, ná die wedren gesê.


“Ja, kyk, hy ís Ryan Gibbons,” het Jaedon Terlouw gelag. “Ek het geweet hy sal ’n fout moet maak sodat ek kan wen, en hy het amper.”
“Ek het dalk ’n bietjie te vroeg feesgevier, en Jaedon het my amper verbygery,” het Gibbons erken. “Maar om die oorwinning te behaal, is so spesiaal. Dit is wonderlik om weer hier in Suid-Afrika te wees en weer deel te wees van hierdie plaaslike fietsrygemeenskap. Dit het die afgelope dekade soveel gegroei en sterker geword.”
