Die polisie ondersoek vier moorde en een poging tot moord ná ’n skietery in Wesbank naby Kuilsrivier, Saterdagaand, 16 Mei.
André Traut, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die polisie is omstreeks 20:00 na Strandveldstraat ontbied, waar die beamptes op drie vroue en een man met skietwonde afgekom het. Die slagoffers was tussen 32 en 39 jaar oud.
Paramedici het die slagoffers op die toneel dood verklaar.
Volgens die polisie is ’n sewejarige kind, wat in die voorval gewond is, na ’n nabygeleë mediese fasiliteit geneem.
Traut het gesê die voorlopige ondersoek dui daarop dat die voorval moontlik bendeverwant is. Die omstandighede rakende die skietery word deur die polisie se eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad ondersoek.
‘Sinnelose slagting’
Ebrahim Sawant, plaaslike wyksraadslid, het Maandag gesê hy is, net soos die gemeenskap, deur die veelvuldige moorde geskok. Sawant het dit as ’n “sinnelose slagting” beskryf.
Wesbank se inwoners leef in vrees en dring aan op ingryping. “Ek is nie net kwaad nie, maar ook gefrustreerd,” het Sawant gesê. “My hart gaan uit na die families van die drie ma’s en ’n pa wat sinneloos afgemaai is, asook die onskuldige seun wat tans in die hospitaal om sy lewe veg.”
Sawant het Maandag familielede van die afgestorwenes en die gewonde seun tuis besoek. Volgens inligting van die familie aan Sawant, is die gewonde seun nege jaar oud.
LEES OOK: Army joins police in major WC crime crackdown as Operation Prosper launches
Sawant het gesê ’n man, wat tydens dieselfde voorval gewond is, is ook tans in die hospitaal. Hy was versigtig oor bespiegeling oor bendes, maar het genoem dat daar Vrydagaand ook ’n skietery was.
“Die afgestorwenes was almal ouers van jong kinders. Die seun wat in die hospitaal is, se ma is dood,” het Sawant gesê.
Die gemeenskap eis antwoorde by wetstoepassers en ander owerhede te midde van die voortdurende bendegeweld en dodelike skietvoorvalle wat die woongebied teister.
Daar is veral ongelukkigheid oor misdadigers wat kort nadat hulle in hegtenis geneem is, weer op straat is.
Volgens Sawant sou soldate van die weermag ook in die gebied ontplooi word, maar niks het nog van dié belofte gekom nie. “Dit is amper drie maande sedert die weermag ontplooi is en ons het hulle nog nie hier gesien nie.”
