Springbok-afrigter Rassie Erasmus het Maandag slegs twee veranderinge aan sy beginspan gemaak wat die All Blacks in Johannesburg verslaan het vir Saterdag se beslissende wedstryd van die Greatest Rivalry-reeks in Baltimore. Dit is immers ’n span wat hy wéét die Kiwi’s kan klop.
Damian Willemse vervang die beseerde Cheslin Kolbe op heelagter, terwyl skrumskakel Morné van den Berg, wat verlede Saterdag op die plaasvervangersbank begin het, dié week in die beginspan is.
Gegewe die span se dapper vertonings in die afgelope twee wedstryde om ’n voorsprong van 2-1 in die reeks van vier toetse te neem, het die Bok-afrigter by die resep gehou met die oog daarop om die reeks in die VSA te beklink. Dit het daartoe gelei dat hy die een noodgedwonge verandering weens ’n besering op heelagter gemaak het en Van den Berg ’n kans in die beginspan gegee het, terwyl Cobus Reinach na die plaasvervangersbank skuif.
’n Oorwinning vir die Springbokke in die M&T Bank-stadion sal die reeks in die Springbokke se guns beklink. Wen die All Blacks, dan is die reeks amptelik gelykop nadat hulle die openingswedstryd gewen het.
Kolbe, wat verlede naweek met ’n kakebeenbesering die veld by FNB-stadion verlaat het, was een van ses spelers wat in Suid-Afrika agtergebly het toe die groep na die VSA vertrek het. Die span sal daarna direk van die VSA na Australië reis vir die eenmalige toets teen die Wallabies by Optus-stadion in Perth op Sondag 27 September.
Die wedstryd skop om 23:00 Suid-Afrikaanse tyd af.
Springbok-span vir Baltimore
- Ox Nche
- Malcolm Marx
- Wilco Louw
- Eben Etzebeth
- Ruan Nortjé
- Siya Kolisi
- Pieter-Steph du Toit
- Jasper Wiese
- Morné van den Berg
- Sacha Feinberg-Mngomezulu
- Ethan Hooker
- Damian de Allende
- Jesse Kriel
- Kurt-Lee Arendse
- Damian Willemse
Plaasvervangers
16. Deon Fourie, 17. Gerhard Steenekamp, 18. Thomas du Toit, 19. Lood de Jager, 20. André Esterhuizen, 21. Cameron Hanekom, 22. Cobus Reinach, 23. Manie Libbok.
