Loer jy op sosiale media, is dit duidelik dat die weer hierdie week snerpende koue, sneeu én harde reën wat tot oorstromings lei, insluit.
Ja, jy kon dié afleiding gemaak het deur net by die venster uit te loer, maar die talle video’s en foto’s wat op sosiale media soos ’n veldbrand versprei, bevestig dat vreemde weerverskynsels vandeesweek regoor Suid-Afrika ontvou.
In een video kruip die karre “kniediepte” deur strome water in Gqeberha, in ’n ander foto is die N14 tussen Kuruman en Vryburg gesluit weens erge vloedwaters. Nog ’n video wys hoe skoolkinders van Laerskool Avante in Kocksoord, Randfontein, met besems en emmers die water tevergeefs uit hul skoolgange probeer kry.
“’n Intense afsnylaagdrukstelsel sal die westelike en sentrale dele van die land van Dinsdag tot Donderdag (5 tot 7 Mei) raak. Die publiek en kleinveeboere word gewaarsku oor moontlike sneeu, stormwinde, swaar reën, oorstromings, baie koue toestande en rowwe seetoestande,” het die Suid-Afrikaanse Weerdiens in ’n verklaring gesê.
“Die situasie sal na verwagting Woensdag vererger oor die suidelike en suidoostelike dele van die land, waar baie swaar reën ernstige oorstromings kan veroorsaak. Die gebiede wat die grootste risiko loop, is die oostelike dele van die Wes-Kaap sowel as die suidwestelike dele van die Oos-Kaap.”
“Daarbenewens word sneeu vanaf Woensdagaand verwag wat die hoogliggende dele van die noordoostelike dele van die Wes-Kaap, suidelike dele van die Noord-Kaap sowel as die noordelike dele van die Oos-Kaap sal raak. Dit kan ontwrigting op sommige paaie in hierdie gebiede veroorsaak. Sterk winde word ook Woensdag oor groot dele van die westelike en sentrale binneland verwag, wat later die dag ooswaarts sal versprei en op plekke skadelik kan wees.
“’n Skerp daling in temperature oor groot dele van die land, buiten die verre noordoostelike dele, word Woensdag en Donderdag verwag, met sommige hoogliggende dele wat maksimum temperature rondom 10 grade of selfs laer kan ervaar.
“Toestande sal na verwagting vanaf Vrydag geleidelik verbeter, hoewel koue toestande in sommige hoogliggende dele tot in die naweek kan voortduur.”
Stuur jou foto’s van hierdie week se landswye onweer vir moontlike publikasie in Die Papier.
Ons wil graag ’n fotoblad daaruit saamstel. Daar is geen koste hieraan verbonde nie. Alle fotograwe sal erkenning kry en mag ’n kontaknommer, e-pos of webwerf saam met die foto publiseer.
Vereistes:
Foto moet in JPG-formaat wees. Nie kleiner as 1MB nie.
Onderskrifte moet so volledig moontlik wees en die volgende bevat:
- Waar die foto geneem is (dorp of streek).
- Iets oor die weerverskynsel (reën, sneeu, wolke, druppels, strome water ens.) wat in die foto vasgevang is.
- Die fotograaf se naam.
’n Tipiese onderskrif sal lui: Die wolke trek saam oor die see by Mosselbaai. Foto: Jan Malherbe van JM-fotografie.
Stuur alle foto’s na lesers@diepapier.co.za.
